ʼn Paddatjie het in China in ʼn porselein kershouer beland en al die pad tot Kaapstad oorleef, net om hier van kant gemaak te word.
Brett Glasby, van die Kaap van Goeie Hoop se Dierebeskermingsvereniging (DBV), sê dit is nie ongewoon om diere te kry wat so ‘ryloop’ nie, maar dit is die eerste keer wat hulle op ʼn paddatjie afkom, het The Star Donderdag berig. “Ons het al slange in ingevoerde hout gekry en skerpioene in vrugte. Die paddatjie het in die kershouer vasgesit en ons moes die kershouer breek om die dier te bevry,” het Glasby gesê.
Volgens Glasby het paddas verskeie aanpassingsmeganismes om byvoorbeeld tydens droogtes en koue te oorleef. “Die paddatjie was baie honger en is wurms en krieke gevoer,” het hy gesê.
Die paddatjie moet van kant gemaak word omdat dit ʼn uitheemse spesie is wat ʼn moontlike gevaar vir inheemse paddas inhou.
Andrew Turner, wetenskaplike bestuurder van CapeNature, het die padda as ʼn Asian Common Toad identifiseer. Dit is nie ʼn bedreigde spesie nie.
– Sapa