Padverbruikers verantwoordelik vir hoë dodetal

‘n Onlangse ongeluk naby Krugersdorp. Foto: Netcare 911

Die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) het Woensdag gesê dat padverbruikers Suid-Afrika gefaal het en verantwoordelik is vir die hoë aantal padsterftes oor die feesseisoen.

“Die RTMC se plan, om die dodetal op die land se paaie teen 2015 te halveer, werk. As enigiemand in hul verpligting gefaal het, is dit die padverbruikers,” het Ashref Ismail, RTMC se woordvoerder, gesê.

Hy sê slegs 80% van motoriste gehoorsaam die wet; die res van die padverbruikers is glo aggressief en vyandig. “Dit is nie aanvaarbaar dat tussen 38 en 50 mense daagliks op die land se paaie sterf nie. Gedurende die feesseisoen is dit sowat 42 mense per dag. Dié probleem moet hanteer word en Suid-Afrikaners sal moet saamstaan,” het hy gesê.

Ismail sê sowat 2 000 mense is tot dusver gedurende die feesseisoen in hegtenis geneem. “Na dié oortreders in die hof verskyn het, is van hulle se bestuurderslisensies nietig verklaar en moet hulle van voor af aansoek doen vir hul leerling- en bestuurderslisensies,” het Ismail bygevoeg.

Die meeste oorsake van ongelukke was as gevolg van dronkbestuur, hoë spoed en roekelose bestuur. Die RTMC het vroeër die week gewaarsku dat dronkbestuurders wat in noodlottige ongelukke betrokke is, van moord aangekla sal word. Teen Maandag het 1 207 mense in 1 006 botsings sedert 1 Desember gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Maryke ·

Hulle moet dit wet maak dat ALLE voertuie op die pad hulle ligte aansit, dag en nag. Ek glo baie kop-aan-kop botsings sal sodoende uitgeskakel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.