Padwoedevoorval: Verdagte kry borgtog

Doublas Pearce en sy vrou, Tammy. Foto: Facebook.

Douglas Pearce en sy vrou, Tammy. Foto: Facebook.

Die motoris wat na bewering die motorfietsryer, Douglas Pearce (39), Vrydag in Malibongwerylaan in Johannesburg tydens ʼn padwoedeaanval doodgeskiet het, is Maandag in die Roodepoortse landdroshof op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Landdros Denis Smith het gesê die moordverdagte, Meekahefele Masooa (43), het oortuigende persoonlike feite en omstandighede aangebied wat dit geregverdig het dat hy op borgtog vrygelaat kan word.

“Die bewyse voor die hof dui daarop dat dit ʼn padwoedevoorval is. Die verdagte het nie van die toneel gevlug nie, maar het vir die polisie gewag om op te daag. Hy het ook sy eie vuurwapen en Pearce s’n aan die polisie oorhandig,” het Smith gesê. Sy het gesê die hof moet nog Masooa se bewerings bevestig.

Masooa het in sy beëdigde verklaring gesê hy is getroud en het vier dogters. Die gesin woon in Centurion en besit ʼn huis ter waarde van R2,2 miljoen. Masooa, die gesin se broodwinner, is ʼn arbeidswetkonsultant.

Hy het gesê Pearce het hom Vrydag konfronteer. “Hy het op my geskree, en sy middelvinger na my gewys… ek weet nie hoekom hy dit gedoen het nie,” het Masooa gesê.

Volgens hom het Pearce toe sy vuurwapen uitgehaal en op hom gerig. Masooa het besef hy is in ʼn gevaarlike situasie, en het sy eie vuurwapen uitgehaal om homself te beskerm. “Ek het geen voorneme gehad om hom dood te maak nie. Ek besef die erns van die oortreding, maar ek het opgetree binne die wetlike grense.” Victor Nkwashu, Masooa se prokureur, het gesê sy kliënt se optrede by die toneel bewys dat hy nie ʼn vlugrisiko is nie. Hy het ook aan die hof gesê Masooa het ʼn wond aan sy kop opgedoen tydens die skietery.

Smith het gesê volgens mediese verslae wat by die hof ingedien is, is Masooa se besering nie ʼn skietwond nie, maar slegs ʼn skaafwond.

Staatsaanklaer Sam Campher het gesê Masooa is voorheen in hegtenis geneem omdat hy ʼn vuurwapen op iemand gerig het, maar hy is nooit skuldig bevind nie. Die staat het borgtog teengestaan weens die ernstigheid van die saak, en omdat hulle vir Masooa se veiligheid vrees.

Verskeie motorfietsryers het by die hof saamgekom om steun vir Pearce te betoon.

Masooa het aangedui dat hy onskuldig gaan pleit.

Die saak is tot 25 April uitgestel.

Lees ook:
Padwoedeaanval: Man in hof wat glo motorfietsryer doodskiet
Man vas wat glo motorfietsryer doodskiet
Motorfietsryer glo in padwoedeaanval doodgeskiet

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marieta ·

Ja en ek is Piet Pompies. Dit is net omdat die vermoorde man wit is. As die situasie omgekeerd was, het die einste witman agter tralies beland. Selfs al was daar geen sprake van ‘n vorige wanoptredr nie. Rassisme! Dit is wat dit is.

Adoons ·

Feit van die saak is, dis nie net kinderagtig nie maar lewensgevaarlik om jouself in ‘n padwoedevoorval te begeef. Ongeag wie reg en verkeerd was in hierdie saak, daar is nou ‘n vierjarige kleuter wat sonder ‘n pa moet grootword. Vir wat? Wees liewer die minste. Gaan dit regtig so ‘n groot verskil maak as jy 1 minuut later by jou bestemming aankom, of as jy die ander ou se ongeskikte gedrag ignoreer?

Eben ·

Dis waar Adoons maar almal is nie kalm soos jy…… Kom ek stel dit so ons wens almal kan so wees maar ongelukkig is dit nie moontlik. As die verkeerpolisie minder kfc eet en minder onder brue en skadu bome weg kruip en meer sigbaar is sal dit beter gaan. Sterkte aan die familie hoop geregtigheid sal geskied. Dis laat mens weereens glo dat die regstelsel korrup is … Die man betaal R5000 en Oscar R1milj

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.