Pampoenrekord spat by Goliat van Gat

Wykus Lamprecht was die wenner met sy 790 kg pampoen en Henri Combrink, organiseerder, wens hom geluk.

Die wenner van vanjaar se jaarlikse Goliat van Gat pampoenkompetisie het die skaal op ʼn rekordgewig van 790kg laat kreun. Die vorige rekord was 556kg en is in 2017 deur Hugo le Roux opgestel. Vanjaar se wenpampoen was ook amper dubbeld so swaar soos verlede jaar se wenpampoen, wat 420kg geweeg het.

Die 17de Goliat van Gat pampoenkompetisie is die afgelope naweek by die TLU SA Boeremark in Silverton in Pretoria gehou. Daar was 22 inskrywings en ʼn totaal van 3 234 kilogram se pampoene is ingeskryf.

Die Suid-Afrikaanse rekord vir die swaarste pampoen is 860kg.

Die kompetisie word aangebied deur TLU SA se Cullinan Boere-Unie-tak en al die pampoene wat ingeweeg word gaan na verdienstelike welsynsorganisasies wat dit verwerk en onder behoeftige mense in en om Pretoria versprei.

“Selfs onder die moeilike omstandighede en die onsekerheid rondom die inperkingsmaatreëls het die deelnemers volstoom voortgegaan om reuse pampoene te kweek. Dit is ook wonderlik om die wedersydse ondersteuning en kameraadskap onder die deelnemers te sien. Daar het ʼn behoorlik pampoengemeenskap onder die kwekers ontwikkel, sê Henri Combrink, organiseerder van die kompetisie en voorsitter van Cullinan Boere-Unie.

Die wenners van die 2021 Goliat van Gat-pampoenkompetisie was Wykus Lamprecht van Meyerton. Tweede was Peet Joubert van Centurion met ʼn 532 kg pampoen, gevolg deur Lizzie Lamprecht van Meyerton met ʼn 399 kg pragstuk.

Peet en Sonja Joubert by hulle twee inskrywings 532 kg (tweede plek) en 375 kg (vierde plek).

Daar is ook ‘n kompetisie gehou om jong kwekers onder 16 jaar te betrek en daar het Janru Reyneke (7jr.) van Sinoville in Pretoria gewen met ‘n pampoen van 104 kg.

Die Junior wenner was Janru Reyneke (7jr.) met ‘n pampoen van 104 kg.

 

Die rekordpampoen van 790 kg word vir die volgende week by Uitkyk Vleismark in Silverton uitgestal, wat een van die borge van die Goliat van Gat pampoenkompetisie is. Henri Combrink, organiseerder en Mnr Fred Cornelius, eienaar van Uitkyk Vleismark, is baie ingenome met die reuse pampoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Ek vermoed dis ‘Pampoenrekord’ eerder as ‘Pamoenrekord’

Megan Swart ·

Dagsê Johan
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Noels244 ·

Welgedaan Meyerton! Ons plattelanders weet van goed groei

Oomniklaassevriend ·

En om te dink dat daar nog groter pampoene in die parlement is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.