Pandjieswinkels floreer in Pretoria

pretoria-jakaranda-stad-sa-tourism-flickr-com

Pretoria. Argieffoto: SA Toerisme/Flickr.com

In Pretoria, net soos in ander stede en die dorpe in die land, is pandjieswinkels besig om op te skiet.

Sommige van dié winkeleienaars sê namate die swak ekonomie verbruikers meer begin druk, word daar van onnodige artikels ontslae geraak, in ʼn poging om ʼn begroting te laat klop.

Pretoria het ʼn magdom pandjieswinkels. Die Moot, Silverton, Sunnyside … dit is waar jy hulle gaan raakloop. En eienaars sê dat verkopers van heinde en ver kom … van gegoede woonbuurte tot minder gegoede buurte.

“Hier maak dit nie saak wie of vanwaar jy is nie. Dit gaan om oorlewing,” voer een winkeleienaar aan. Hy verwys na die feit dat mense goed waaraan hulle jare lank verknog geraak het, skielik moet verkoop. “Dit is swaar vir mense om van hul goed afskeid te neem.”

Roelf Groenewald, eienaar van Die Skatkis in Van der Hoffstraat in Pretoria, sê daar is ʼn neiging onder mense om meer goed te verkoop – van duursame artikels tot die gereedskap wat vakmanne gebruik.

Hy sê dit is duidelik dat ek ekonomie straf is en baie mense druk. “Soms kan jy sommer sien dat iemand duidelik onder druk is om van goed ontslae te raak.”

Die algemeenste rede waarom mense goed wil verkoop is omdat hulle hul werk kwyt is, sê hy.

Tans is daar meer as 25 000 poste in die mynwese in die gedrang. Boonop waarsku ekonome dat namate die ekonomie verder verswak, meer mense se poste in gedrang kan kom.

Nog ʼn eienaar in Mootstraat wat verkies om anoniem te bly, sê daar is geldige redes vir klante wat ʼn uitkoms soek. Dit sluit in hoë lewenskostes soos kospryse en diensrekeninge.

“Oor die algemeen is dit ouers wat wil toesien dat hul kinders se lewens so min as moontlik ontwrig word.”

Volgens winkeleienaars is televisiestelle, toebehore soos yskaste en mikrogolfoonde, klanktoerusting, rekenaars en kameras van die gewildste items wat verkoop word.

Volgens Groenewald is daar nietemin steeds kopers wat op soek is na winskopies. “Een maand is daar ʼn toeloop. Dan skielik is daar ʼn insinking,” sê hy en gee toe dat dié bedryf op ʼn maand-tot-maand-grondslag wipplank kan ry.

Die Mootstraat-eienaar beaam dat winskopies volop is: “Hier het al versamelaarskatte opgeduik. Goed soos ou Spoorweg-items word soos goud aangegryp deur kopers.”

Alle transaksies word streng beheer en verkopers moet deurgaans hul identiteitsdokumente en bewys van adres kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Basjan ·

Sekere pandjieswinkels is van die grootste skelms op aarde. As hulle sien die verkoper is desperaat, word belaglik lae pryse vir die goedere aangebied. As ‘n item byvoorbeeld R300 werd is, gee hulle soms slegs R50 of selfs minder daarvoor. Gewetenloos as jy my vra.

Pandjies ·

En sou daar nie pandjieswinkels wees nie sou mense verder weg sak in hul ellende waar hulle in verkeer.
Niemand se jy moet jou ware verkoop nie, dis nog altyd jou beslissing met die medewete dat jy minder daarvoor kry dan waar jy dit self voor in geskat het.

M ·

Ek het een keer probeer om van n wit olifant by n pandjieswinkel ontslae te raak. Die item was bykans splinternuut en het R4000 nuut gekos.
Die mense het my nie eers R400 aangebied nie. Hulle het geen gevoel gehad van wat so item nuut sou kos nie.

Ek het die item teruggeneem en dit vir iemand verniet gegee. So het niemand my ingeloop nie, ek het gekies om dit eerder verniet weg te gee as om n ander te verryk.
Die pluspunt was dat die ontvanger van die item dit baie waardeer het.

Basjan ·

M, ek stem 100% saam met jou. Van hulle is gewetenlose skurke. As ek moet sê wat op my gemoed is, sal Maroela Media my kommentaar summier verwyder.

Leeukuil ·

Ek wonder nou wat hulle sal betaal vir ‘n gebruikte skoonma. Ek het juis een beskikbaar en het so paar rand nodig voor maandeinde.

dovaz ·

Miskien is dit ook maar uit desperaatheid om kos op die tafel te kry en om te voorkom dat kinders honger gaan slaap.

dovaz ·

Miskien is dit soms die enigste uitweg om kos op die tafel te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.