Paralimpiese atlete kry selfde bonusse as nie-gestremde atlete

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het gister bevestig dat die land se Paralimpiese atlete dieselfde bonusse sal kry as die nie-gestremde atlete wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het.

Die Paralimpiese Spele het gisteraand tydens ʼn skouspelagtige sluitingseremonie tot ʼn einde gekom. Supersterre soos Coldplay, Rihanna en Jay-Z het die skare vermaak. Suid-Afrika se Paralimpiese atlete het 29 medaljes waarvan agt goud, 12 silwer en nege brons gewen by vanjaar se Spele om 18de te eindig uit die meer as 70 lande wat deelgeneem het. Saskok het aanvanklik in Julie aangekondig dat Olimpiese atlete R400 000 vir ʼn goue medalje, R200 000 vir ʼn silwer medalje en R80 000 vir ʼn brons medalje sal ontvang terwyl Paralimpiese atlete R100 000 vir goud, R50 000 vir silwer en R20 000 vir brons sal ontvang. Daar is aangevoer dat Paralimpiese atlete minder prysgeld sou ontvang aangesien die “speelvelde” verskil. In die Paralimpiese Spele neem sowat 4 200 atlete deel om 503 medaljes terwyl daar 10 500 atlete aan die Olimpiese Spele deelneem om slegs 300 medaljes. Fikile Mbalula, die minister van sport, het egter Saterdag aangekondig dat die Paralimpiese atlete dieselfde bonusse as die nie-gestremde atlete sal ontvang. Suid-Afrika se Paralimpiese atlete sal Dinsdag wanneer hulle in Johannesburg aankom die bonusse ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.