Suid-Afrika staan tans 23ste op die medaljeranglys van die Paralimpiese Spele in Londen en sal na verwagting later Dinsdagaand opskuif met vier sportsterre wat in finale gaan deelneem.
Suid-Afrika spog tans met twee goue, vyf silwer en ses bronsmedaljes. Alle oë en verwagtinge vir nog ʼn goud val op Natalie du Toit, wat om 19:10 aan die 400m-vryslag S9-finaal gaan deelneem. Haar spanmaat, Emily Gray, neem ook aan dié swemitem deel.
Shireen Sapiro is ook ʼn gunsteling om ʼn medalje in te palm. Sy swem om 19:42 in die 100m-rugslag S10-finaal. ʼn Doring tussen die rose is ook ʼn gunsteling om ʼn medalje te verower ná Charles Bouwer vandag eerste in sy 400m-vryslag uitdunne geëindig het. Hy is vanaand om 21:45 in aksie.
Michael Louwrens het reeds vandag al vir Suid-Afrika ʼn bronsmedalje bekom deur derde in die gewigstoot F57/58-finaal te eindig. Sy beste vertoning was 13.64m.