Paralimpiese Spele: SA kry nog drie medaljes, Natalie du Toit groet

Natalie du Toit nadat sy Vrydag 'n silwer medalje gewen het. Foto: SuperSport

Suid-Afrika se atlete het Vrydag nog drie medaljes ingepalm by die Paralimpiese Spele in Londen.

Ilse Hayes het ʼn goue medalje in verspring (klas F13) verower.

Natalie du Toit het ʼn silwer medalje in die 100m-vryslag (klas S9) ingepalm. Dit was die laaste wedren van haar loopbaan van 14 jaar. Dit was haar 15de Paralimpiese medalje by haar derde Paralimpiese Spele. Hiervan was 13 goue medaljes en twee silwermedaljes. Sy skryf op Twitter: “Wat ‘n emosionele dag. Opwindend en hartseer. My swem loopbaan is verby, maar die lesse wat geleer is sal nooit vergeet word nie.”

Die fietsryer Ernst van Dyk het vir ons die tweede silwer medalje vir die aand gewen. Hy het die goud in die fietsry H4-padwdloop met 1 sekonde gemis. Die voormalige Italiaanse Formule Een-renjaer, Alessandro Zanardi, het die goud in dié wedloop gevat.

Suid-Afrika het reeds 24 medaljes – ses goud, nege silwer en nege brons – gewen tydens vanjaar se Spele. Op die voorlaasde dag van die Spele is Suid-Afrika 18de op die medaljeranglys.

Die Spele kom Sondag tot ʼn einde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.