Parapleeg ry 6 000km met fiets

Helgard Muller

Helgard Muller. Foto: Helgard Muller Facebook-blad

Om 6 000km om die grenslyne van Suid-Afrika met ʼn fiets af te lê is reeds ʼn prestasie, maar Helgard Muller sal glo die eerste parapleeg wees om hierdie enorme taak aan te pak.

In 2007 het Muller vir ʼn graanmaatskappy in South Dakota, Amerika, gewerk toe hy in ʼn dreineringsgat getrap en sy voet tussen ʼn voerband en ketting vasgevang is.  Vyf dae na die insident is Muller se been tot onder sy knie geamputeer.

Muller erken dat, hoewel hy aanvanklik baie depressief was, hy ʼn keerpunt bereik het toe hy, drie maande ná sy eie ongeluk, ʼn televisieprogram gekyk het oor ʼn Amerikaanse soldaat, wat albei sy arms en bene verloor het. “Daardie man het gesê daar is nie ʼn dag wat hy dink aan selfmoord nie en dit het my laat dink en besef dat ek so baie het om voor dankbaar te wees.”

Muller het reeds voor sy ongeluk in fietsry belang gestel en slegs ʼn jaar na die ongeluk het hy sy eerste fiets aangeskaf.

Op 1 September pak Muller en sy vrou, Hanlie, ʼn projek aan waar hulle 6 000km om die grenslyne van Suid-Afrika met fietse gaan aflê. Die doel van die projek is om bewusmaking te skep en geld in te samel vir die Wes-Kaapse Vereniging vir Persone met Gestremdhede.

Volgens Muller is daar niks van hierdie projek wat hom bang maak nie. “Die lewe het my geleer dat ek geen vrese moet hê nie, maar om net te leef en te laat leef.”

Muller en sy vrou skop die projek in Kaapstad af waar hulle na Oranjemund in Namibië sal ry. Vandaar sal hulle reis na Messina, Louis Trichardt, Nelspruit, Richardsbaai en Durban.  Daarna sal hy weer terugkeer Kaapstad toe.

Muller se vordering tydens die reis word gemonitor deur ʼn Garmin-sporingstoestel en hy sal ook daagliks die publiek ingelig hou oor hulle vordering via sosiale media.

Luister gerus na die volledige onderhoud wat Draadloos met Helgard gevoer het in program 135 en 140 van Allegaartjie.

Jy kan ook meer lees oor Helgard se storie op sy webtuiste en sy reis volg op sy Facebook-blad en Twitter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willy ·

Sterkte vir julle. Hoop alles gaan klop disselboom en geniet die natuurskoon.

Trippie ·

Wat ‘n inspirasie en positiewe boodskap vir ons met geen gestremdhede nie … voorspoed met die voorgenome projek en wees te alle tye veilig.

DIT WIL GEDOEN WORD !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.