Parkeer-en-ry-gebiede moes Donderdag vroeg sluit

Die ry Donderdag 12 Desember 2013 by die Pretoria Skougronde Foto: Departement van internasionale betrekkinge en samewerking/SAPA

Die ry Donderdag 12 Desember 2013 by die Pretoria Skougronde Foto: Departement van internasionale betrekkinge en samewerking/SAPA

Parkeer-en-ry-gebiede moes Donderdagmiddag omstreeks 15:00 sluit omdat te veel mense opgedaag het om na die Uniegebou vervoer te word waar oud-president Nelson Mandela in staatsie lê.

“Ons het Donderdagmiddag kapasiteit bereik vir die aantal mense wat die oorskot van Mandela Donderdag kan sien,” het Tasneem Carrim, woordvoerder van die regering, gesê. “Dit is ongelukkig nie moontlik om almal, wat kom om hom te sien, te akkommodeer nie.”

Dosyne busse het op pad na die Uniegebou afgetrek en mense het uitgeklim om met taxi’s na die parkeer-en-ry-gebiede terug te keer.

Carrim moedig mense aan wat Mandela wil groet om Vrydagoggend reeds om 06:00 by die onderskeie punte te wees. Vrydag is die laaste dag wat Mandela in staatsie lê. “Mense moet voorbereid wees. Hulle moet verkieslik sambrele en water saambring.”

Volgens Phumla Williams, woordvoerder vir die regering, het tussen 12 000 en 14 000 mense Woensdag opgedaag om Mandela se oorskot te sien. Die getalle vir Donderdag word nog bepaal, maar duisende mense het ure lank in die bloedige son in ʼn ry gestaan.

Mandela het op 5 Desember 2013 in die ouderdom van 95 by sy huis in Houghton, Johannesburg, gesterf. Sy liggaam word Saterdag na die Oos-Kaap vervoer waar hy Sondag tydens ʼn staatsbegrafnis in Qunu begrawe sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.