Parlement stem vandag oor grondonteiening

Boere sal na vandag meer duidelikheid oor die toekoms van hulle eiendomsreg kry. (Foto: Jo Raubenheimer)

Meer duidelikheid oor die toekoms van onteiening sonder vergoeding (OSV) sal vandag verkry word wanneer die parlement oor hierdie omstrede wetsontwerp stem.  ʼn Meerderheid van 66,7% sal deurslaggewend wees om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding en staatsbewaring oor grond ’n uitdruklike grondwetlike mandaat van die Republiek van Suid-Afrika te maak.

Volgens Vrystaat Landbou (VL) kan dit verreikende gevolge vir die land se ekonomie inhou. “As hierdie wetsontwerp ’n tweederdes stem kry, verdoem dit die kanse op ekonomiese herstel in Suid-Afrika, wat reeds skeptiese beleggers in ons ekonomie wegjaag, plaaslik en uit die buiteland,” sê Francois Wilken, president van VL.

“VL het ten volle aan die openbare konsultasieproses deelgeneem en die voorgestelde wysiging aan artikel 25 teengestaan deur ons lede en die publiek te mobiliseer om insette te lewer, deur skriftelike indienings, asook voorlegging aan die parlement.

Maroela Media het vroeër berig dat 107 639 mense aan VL se openbare veldtog om eiendomsreg te beskerm, deelgeneem het.

“Sonder dat beleggings in eiendom deur gesonde eiendomsregbeleid verseker word, gaan beleggers elders, waar hul beleggings veiliger is. Plaaslike ekonomies aktiewe burgers sal ook nie herbelê in onseker eiendomverwante bates nie, en sal hul beleggings in onder meer pensioenfondse en spaargeld, na buitelandse fondse skuif.”

Hy sê in die geval van landbou, sal minder winste in die groei van die plaaslike landbou-ondernemings herbelê word en meer in alternatiewe, minder riskante beleggings en ondernemings, heel moontlik in die buiteland. “Hierdie disinvestering in landbou vertraag die landbou se vermoë om voortdurend aan ’n groeiende bevolking voedselsekerheid te bied en aan te hou om meer mense in diens te neem, wat tans so broodnodig in Suid-Afrika is. Terloops, landbou was die enigste sektor wat die afgelope paar jaar konsekwente groei in indiensneming getoon het.”

Wilken sê die nuwe toevoeging tot die wetsontwerp was nooit implisiet in die bestaande Grondwet nie, hoewel daar nog altyd voorsiening gemaak is vir ’n kombinasie van staatsbeheerde, private en kommunale grond. Die EFF wil hê alle grond moet onder voogdyskap van die staat wees, asook dat geen vergoeding betaalbaar moet wees vir grond wat vir grondhervorming nodig is nie.

“Die standpunt van VL is dat artikel 25 van die Grondwet reeds voldoende voorsiening maak vir grondhervorming, en selfs onteiening met geen vergoeding nie, en dus enige wysiging as onnodig teenstaan.

“Verder is ons hewig gekant teen enige voogdyskap oor grond wat tans in privaatbesit is.”

Ongeag die uitslag van die parlementêre stemming, sê Wilken dat “die grondhervormingsdebat nog lank nie verby is nie. Op die politieke toneel sal dit ’n stryd wees oor ideologieë en herstellende geregtigheid wat net sal toeneem met nasionale verkiesings wat voorlê. Klaarblyklik regverdig dié politieke retoriek landelike misdaad en wrede plaasaanvalle wat beleggings en boere verder uit Suid-Afrika sal verjaag.”

Indien die meerderheid stem verkry word om die Grondwet te wysig soos voorgestel, is die volgende stap dat stemmery na die provinsies en tradisionele leiers toe oorgaan. Die Nasionale Raad van Provinsies (NCOP) se stem sal ook heel waarskynlik dieselfde uitkoms hê as in die parlement.

Wilken gee boere die versekering dat indien hier ook die nodige meerderheid verkry word, VL sal seker maak dat ʼn regspan opdrag gegee word om die grondwetlikheid van die wysiging te betwis.

Hy sê op grondvlak sal goeie buurmanskap en welwillendheid tussen nuwe, selfgevestigde en ou kommersiële boere onverpoos voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Harley Davidson

Die mense moet besluit of hulle net ‘n piesang republiek wil hê of ‘n piesang republiek met honger mense en leë kos winkels.

Louis

Watse grond. Julle wil nou boere se grond vat wat hard gewerk het daarvoor. Die staat het genoeg grond wat hul kan weggee

Pietertjie

Kommuniste gee nooit oor nie. As hulle hierdie stem verloor, is dit net een treetjie terug. Hulle sal weer vorentoe beur vir die volgende twee treë.

Manie

Die regering staan aldag bakhand in die buiteland en bedel vir beleggings, maar watter regdenkende instansie sal soveel as 1 sent in grond/ontwikkeling belê met die wete dat die staat dit ter enige tyd kan onteien sonder vergoeding? Die goed se domastrant arrogansie verstom my.

Marius

Dit sal die laaste spyker in die doodskis van die sa ekonomie wees. Daar sal ongekende armoede en hongersnood in die land wees. Alle grond of eiendom in die land is gekoop en nie gevat nie. Grondonteiening sonder vergoeding is niks anders af diefstal nie.