“Die skorsing het te doen met die deurlopende interne ondersoeke rakende die Zonderwater-paroolraad se foutiewe aanbeveling om die veroordeelde moordenaars, Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk, se gevangenisstraf na korrektiewe toesig om te skakel,” het ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Phumlani Ximiya, gesê. Tiedt en Van Schalkwyk is op 16 Desember op korrektiewe toesig vrygelaat nadat hulle sowat drie jaar van hulle twaalf jaar vonnis uitgedien het. Hulle medebeskuldigdes, Christoff Bekker en Frikkie du Preez, se vonnisse is nie omgeskakel nie. Ximiya sê die voorsitter van die Zonderwater medium A en B saakbestuurkomitee is ook met onmiddellike effek geskors. “Wanneer die ondersoek voltooi is sal die departement ʼn besluit neem rakende dissiplinêre stappe teen die beamptes wat by die saak betrek word,” sê Ximiya.
Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 hul vonnis van 12 jaar tronkstraf begin uitdien nadat hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het reeds in 2001 plaasgevind. Du Preez en Bekker word in die Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.