Paroolraad geskors oor vrylating van twee van Waterkloof-vier

Gert van Shcalkwyk (links) en Reinach Tiedt (regs). Foto's: SAPA

Die paroolraad van die Zonderwater-gevangenis in Cullinan is met onmiddellike effek geskors weens die vrylating van twee lede van die sogenaamde Waterkloof-vier.

“Die skorsing het te doen met die deurlopende interne ondersoeke rakende die Zonderwater-paroolraad se foutiewe aanbeveling om die veroordeelde moordenaars, Reinach Tiedt en Gert van Schalkwyk, se gevangenisstraf na korrektiewe toesig om te skakel,” het ʼn woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, Phumlani Ximiya, gesê. Tiedt en Van Schalkwyk is op 16 Desember op korrektiewe toesig vrygelaat nadat hulle sowat drie jaar van hulle twaalf jaar vonnis uitgedien het. Hulle medebeskuldigdes, Christoff Bekker en Frikkie du Preez, se vonnisse is nie omgeskakel nie. Ximiya sê die voorsitter van die Zonderwater medium A en B saakbestuurkomitee is ook met onmiddellike effek geskors. “Wanneer die ondersoek voltooi is sal die departement ʼn besluit neem rakende dissiplinêre stappe teen die beamptes wat by die saak betrek word,” sê Ximiya.

Van Schalkwyk, Tiedt, Frikkie du Preez en Christoff Bekker het in 2008 hul vonnis van 12 jaar tronkstraf begin uitdien nadat hulle vroeër skuldig bevind is aan die moord op ʼn hawelose man. Die voorval het reeds in 2001 plaasgevind. Du Preez en Bekker word in die Pretoria Sentraal gevangenis aangehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.