Politieke partye het Dinsdag verskillende reaksies getoon op die voorgestelde samesmelting van die Midvaal- en Emfuleni plaaslike munisipaliteite met die Sedibeng-distriksmunisipaliteit om ‘n enkele metropolitaanse munisipaliteit te vorm.
Die samesmelting is een van 167 gevalle wat die munisipale afbakeningsraad (MDB) gepubliseer het in hulle verslag rakende watter veranderinge aangebring sal word aan sekere munisipaliteite ná die munisipale verkiesings in 2016.
Die ANC in Gauteng het die nuwe voorgestelde metropolitaanse munisipaliteit verwelkom. “Die besluit word deur die ANC ondersteun, aangesien dit ontwikkeling en vooruitgang sal bring in die Midvaal-gebied. Die samesmelting sal die armer gebiede in Midvaal tot voordeel strek en ontwikkeling en behuising in die gebied bevorder,” het die party in ‘n verklaring gesê. “Munisipaliteite onder die metropolitaanse stelsel kan makliker inkomste genereer en dienste lewer as klein distriksmunisipaliteite.”
Die Demokratiese Alliansie het egter gesê hy oorweeg om die hof te nader om die samesmelting te verhoed. “Die besluit wat Dinsdag deur die MDB aangekondig is, is polities gemotiveerd,” het Fred Nel, woordvoerder vir plaaslike regering, gesê. “Dit voldoen nie aan die vereistes van die Wet op Munisipale Afbakening nie.” Volgens Nel het die MDB ingegee onder druk van die ANC om met die samesmelting voort te gaan ondanks duisende besware wat ingedien is.
Die ANC sê die MDB se besluit word waardeer, aangesien die DA-beheerde Midvaal-munisipaliteit “gemeenskappe laat swaarkry het vir talle dienste”, insluitend behuising en sanitasie. “Boonop is daar noemenswaardige bewyse uit ‘n verslag van die spesiale ondersoekeenheid (SIU) en die Openbare Beskermer wat dui op korrupsie in die Midvaal-munisipaliteit,” het die party gesê.
Nel sê dit is onverklaarbaar hoekom die samesmelting die groen lig ontvang het terwyl die voorgestelde samesmelting van die Metsimaholo- en Ngwathe-munisipaliteite in die Vrystaat onttrek is ná gewelddadige betogings. Die party beoog om die MDB te versoek om redes te verskaf waarom die besluit geneem is om met die samesmelting voort te gaan, ondanks die besware wat ontvang is.
Suiwer polities gemotiveerd !!!