Die Pretoriase hospitaal, waar voormalige president Nelson Mandela vermoedelik behandeling ontvang, sal bewerings dat polisielede ‘n hartpasiënt geteister het, ondersoek.
“Mediclinic ondersoek die voorval saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en, alhoewel ons hul belangrike plig in die verband respekteer, moet ons beklemtoon dat al ons pasiënte prioriteit geniet,” het Lee-Ann Bell, woordvoerder van die Mediclinic Hart-hospitaal, gesê. “Ons het stelsels in plek by die hospitaal wat verseker dat ons pasiënte en hul besoekers nie onnodige ongerief moet verduur nie, terwyl ons seker maak dat die noodsaaklike vlakke van sekuriteit steeds gehandhaaf word.”
Eyewitness News het berig dat Maxwell Mkhonto Woensdag by die hospitaal vir ‘n joernalis aangesien is. Hy is glo hardhandig behandel, deursoek en sy selfoon is by hom afgeneem en foto’s uitgevee. “Ek was nie een van die joernaliste nie,” het Mkhonto aan die radiostasie gesê. Hy sê hy het sy volgende afspraak herskeduleer met die hoop dat die situasie by die hospitaal dan na “normaal” sou terugkeer.
Mkhonto gaan glo nie enige klagtes teen die polisie lê nie.
Brig. Phuti Setati, nasionale woordvoerder van die SAPD, het gesê hy is nie bewus van die voorval nie en kan dus nie kommentaar lewer nie.
-SAPA