‘n Verstandelike gestremde man wat uit die hospitaal ontsnap het, is in hegtenis geneem in verband met ʼn kaping in Mahikeng in Noordwes.
Kapt. Pelonomi Makau, woordvoerder van die polisie, sê die man het glo Donderdag omstreeks 10:30 ʼn 66-jarige vrou by ʼn karwas naby die Mahikeng-provinsiale hospitaal gekaap. Makau sê gemeenskapslede wat die kaping aanskou het, het die vrou gehelp om die man agterna te sit. Makau sê die man was later in ʼn botsing met ʼn ander motor betrokke. Hy is op die toneel in hegtenis geneem en is daar later vasgestel dat hy ʼn pasiënt by die hospitaal is. “Die ambulans is ontbied en die man is terug na die hospitaal geneem waar hy nou onder polisiebewaking behandel word.” Makau sê die man het ontsnap na hy gewone klere oor sy hospitaalklere aangetrek het. Die polisie ondersoek die kaping sowel as ʼn klag van roekelose en nalatige bestuur.