Pasiënte sterf weens dokters se gekrabbel

Dokters was nog nooit bekend vir hul sierskrif nie, maar ‘n mediese groep is nou só bekommerd oor ‘n onduidelike gekrabbel, dat hulle ‘n bewusmakingsveldtog begin het om seker te maak dit het nie noodlottige ongelukke tot gevolg nie.

Meer as 100 dokters in Maharashtra-staat in Indië, het verlede week vergader en bevind dat onleesbare handskrif een van die kommerwekkendste probleme is wat hulle in die gesig staar. “Weens die onleesbaarheid het die aantal sterftes in Indië en die res van die wêreld teen ‘n kommerwekkende tempo toegeneem,” het dr. Sunita Dube, president van die nie-winsgewende Medscape India gesê.
Dube het nou die ondersteuning van die regering nadat sy aan die minister van gesondheid geskryf het om te verduidelik dat talle aptekers, veral in kleiner dorpies in Indië, nie in staat is om die voorskrifte te lees nie. “Verkeerde medisyne word dan aan die pasiënte oorhandig wat tot talle sterftes lei,” het Dube gesê.

Medscape India beplan om ‘n handboek saam te stel wat as ‘n “blitsgids” vir dokters sal dien, en hulle sal ook werkswinkels vir dokters aanbied om hulle te leer om vinnig en duidelik te skryf. “Ons moet die regte medisyne by mense uitkry,” het Dube gesê. Sy moedig dokters aan om in hoofletters te skryf en hul spelling in medisyneverwysingsboeke na te gaan.

Verbetering in hul handskrif kan ook hofsake oor misverstande teen dokters verhoed, meen Dube.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.