Passasier getuig McCusker se verloofde het taxibestuurder aangerand

Kim McCusker

ʼn Passasier wat in die taxi was wat ʼn Johannesburgse advokaat omgery en meters ver gesleep het, het getuig dat die taxibestuurder aangerand is voor hy weggejaag het.

Matome Thamage (30) doen aansoek om borg in die Randburg landdroshof waar hy van poging tot moord en roekelose en nalatige bestuur beskuldig word. Die getuie het aan die hof gesê dat Kim McCusker se verloofde, Lourens Grobler, die taxibestuurder aangerand het en ʼn venster stukkend geslaan het nadat hulle voertuie gebots het. Hy het glo ook Thamage probeer verwurg. Die vrou sê Thamage het probeer wegjaag maar McCusker het voor die taxi gestaan om hom te probeer keer. Sy het bygevoeg dat niemand in die taxi geweet het McCusker is onder die voertuig vasgekeer nie. Thamage se regsverteenwoordiger het intussen die hof gevra dat hy toegelaat word om te bestuur, indien hy borgtog ontvang, aangesien hy geen ander kwalifikasies het nie. Hy het ook gesê dit was nie Thamage se bedoeling om McCusker om te ry nie.

Grobler het Maandag in die hof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R5 000. Hy word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer en kwaadwillige saakbeskadiging. McCusker is steeds in die hospitaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.