Passasiersboot slaan in Houtbaai om

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Saterdag bevestig dat ‘n volwasse man in ‘n bootongeluk in Houtbaai, Kaapstad, verdrink het.

Die ongeluk het omstreeks 15:00 Saterdag gebeur toe die Mekoshker-passasiersboot naby Duiker-eiland omgeslaan het. “Reddingswerkers het 34 mense gered, maar een van hulle is met aankoms by die seereddingstasie dood verklaar,” het Brad Geyser, woordvoerder van die NSRI in Houtbaai, gesê.

Dit is nog nie bekend waarom die boot omgeslaan het nie en die SA Vloot en SA Lugmag is ingelig oor die voorval.

Toe die NSRI opgedaag het, was van die mense reeds deur ander passasiersbote gered. In daardie stadium was vier mense, drie vroue en een man, steeds vermis. Teen Saterdagaand was die NSRI steeds op soek na die man, wat glo ‘n bemanningslid aan boord was. Dié soektog sal Sondagoggend voortduur. “Die drie vroue was onder die omgeslane boot in die romp van die boot vasgekeer, maar hulle het van lugspasies gebruik gemaak om asem te haal,” het Geyser gesê. Twee van dié vroue is glo toeriste van die Verenigde Koninkryk.

Volgens Geyser is 24 mense hospitaliseer vir verdere mediese behandeling. Van die passasiers wat gered is, is ondersoek en vir verkluiming behandel, maar is sonder verdere mediese behandeling ontslaan.

Die man was dood is, is glo ook ‘n toeris van die Verenigde Koninkryk. “Die NSRI weet van Suid-Afrikaners en toeriste van die Verenigde Koninkryk en Frankryk wat aan boord was, en sal bepaal of van die passasiers van ander lande afkomstig is,” het Geyser bygevoeg.

Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.