Pastoor aangekla van derde verkragting

ʼn Pastoor in Limpopo wat reeds in aanhouding is in verband met die verkragting van twee tieners sal Vrydag in die hof in Seshego verskyn op die aanklag van ʼn derde verkragting, het die polisie gesê.

ʼn 20-jarige vrou, ook van Seshego waar die pastoor vir die eerste keer aangekla is, het Woensdag ʼn klag by die polisie ingedien. Die 50-jarige pastoor is Dinsdag by sy huis in Seshego in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn jong meisie, wat nou 18 jaar oud is, tussen 2009 en 2010 verkrag het. Dit volg nadat hy op R2 000 borgtog vrygelaat is na die verkragtingsaanklag van ʼn 14-jarige meisie, het brigadier Hangwani Mulaudzi, kommunikasiebeampte van die polisie in Limpopo, gesê. Die pastoor het Donderdag vir die tweede verkragtingsaanklag in die landdroshof in Polokwane verskyn. Hy word by die polisiestasie in Limpopo se selle aangehou. Volgens Mulaudzi verwag hulle dat nog vroue na vore sal kom nou dat die stilswye oor die pastoor se vermeende misdade gebreek is. “Dit gaan moeilik wees want ons skuif hom tussen twee howe en dit is moontlik dat ʼn ooreenkoms bereik sal word om al die sake eerder by een plek aan te hoor.” Mulaudzi sê die inwoners van Seshego is baie kwaad. Verskeie mense het buite die hof opgedaag met plakkate en hulle dring aan dat geregtigheid moet geskied. “Die verdagte was glo verbaas toe die polisie vir die tweede keer by sy huis opgedaag het om hom in hegtenis te neem,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.