Pastoor skuldig bevind aan moord

Argieffoto

Argieffoto

‘n Pastoor van Mpumalanga is Donderdag skuldig bevind aan moord nadat hy ‘n vermeende dief met ‘n bylsteel doodgeslaan het.

Mandla Dube (46) van Mganduzweni Trust buite Hazyview is in die Nelspruit-streekshof skuldig bevind aan die moord op die 27-jarige Sabelo Mlombo op 11 September 2011. Dube, ‘n tegniese bestuurder van gemeenskapsprojekte by die departement van samewerkende regering in Mpumalanga, het onskuldig gepleit op die moord.

Die hof het Donderdag gehoor dat Mlombo aangerand is nadat hy daarvan beskuldig is dat hy Dube se 7 000 liter-watertenk gesteel het. Landdros Willie Wilkens sê die hof het bo redelike twyfel bewys dat Dube die beserings veroorsaak het wat tot Mlombo se afsterwe gelei het. “Die hof is beïndruk met die bewyse van die getuie, die vermoorde man se oom, Samson Mthembo, wat die aanranding daardie dag omstreeks 04:00 aanskou het,” het Wilkens gesê. “Dit is duidelik dat Mthembo se bedoeling nie was om jou in die moord te impliseer nie. Hy sê hy het die voorval aanskou en kon dit nie verdra om toe te sien hoe jy die vermoorde met ‘n bylsteel aanrand nie. Hy was te bang om in te gryp. Hy sê jy was nege jaar lank sy buurman.”

Die landdros sê Mthembu se weergawe word ondersteun deur die dokter wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het. “Die dokter het bevestig dat die twee frakture aan die oorledene se nek en linkervoorarm veroorsaak is deur aanranding met ‘n bylsteel, en dat geweldige krag ingespan is. Die dokter het gesê sulke beserings kan vergelyk word met beserings wat slagoffers gewoonlik in motorongelukke opdoen.”

Konstabel Dorcas Ngomane, van die polisiestasie in Hazyview, het getuig dat Mlombo ernstig beseer was toe Dube en drie ander mans hom omstreeks 07:30 by die polisiestasie aangebring het. “Die beampte het gesê die oorledene het sag gepraat en water gevra. Hy het bloed op sy kop gehad wat oor sy gesig gestroom het. Daar was ook bloed op sy T-hemp. Hulle het ‘n ambulans ontbied, wat hom na die hospitaal geneem het.”

Michael Madondo het getuig dat Mlombo ook met ‘n besemstok geslaan is en dat hy gesterf het omdat hy in ‘n 2m-diep sloot geval het. “Jy kon voorsien het dat die man sou sterf, maar jy het hom steeds bly slaan. Jy word dus skuldig bevind aan sy moord,” het Wilkens aan Dube gesê.

Die landdros het bekend gemaak dat Dube op twee vorige oortredings skuldig bevind is: een vir aanranding in 2005 toe hy R3 500 of 90 dae tronkstraf gevonnis is; en ‘n ander aan bedrog, waar hy ‘n boete van R300 of ses maande tronkstraf opgelê is.

Wilkens het die saak tot Maandag uitgestel vir vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.