Pastorie-moorde: Seun gaan glo skuld erken

Martin Brits en Elliot Mhlambi Foto: Lani Fouché, OFM

Martin Brits en sy medebeskuldigde, Elliot Mhlambi, wat van die moorde op ds. Willem Brits en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen aangekla word, se borgtog is nie toegestaan nie.

Ds. Brits, sy vrou Dorothea, en Gerhardus is Donderdagaand in die pastorie aangeval. Ds. Brits is met ʼn byl aangeval en het Vrydagoggend aan sy beserings beswyk. Gerhardus Vermeulen is tydens die voorval doodgeskiet. Dorothea, wat ook met ʼn byl aangeval is, is tans in ʼn kritieke, onstabiele toestand in die Mediclinic Bloemfontein nadat sy Sondag ʼn terugslag beleef het. Die egpaar se dogter, Thea, was ook by die huis maar is ongedeerd.

Die twee verdagtes het mekaar glo in die gevangenis in Frankfort ontmoet, toe Martin tronkstraf vir bedrog uitgedien het. Mhlambi se kriminele rekord is nog nie bekend gemaak nie, berig OFM.

Die twee verdagtes het Maandag vlugtig in die hof verskyn. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, het gesê Martin sal na verwagting tydens sy volgende hofverskyning skuldig pleit op die aanklagte. Mhlambi het aangedui dat hy in dieselfde hof om borgtog sal aansoek doen. Beide mans maak van staatsregshulp gebruik.

Vermeulen se halfbroer, Nelis du Toit, het aan OFM gesê dat hy (Vermeulen) die afgelope paar maande saam met sy verloofde, Thea, en haar ouers in die pastorie gewoon het.

Die saak is tot 19 November uitgestel.

Volgens AJ Scherrer, ʼn woordvoerder van die familie, word ds. Brits Vrydag om 11:00 uit die NG Gemeente Kerkenberg in Harrismith begrawe. Dit is nog nie seker wanneer ʼn roudiens vir Vermeulen gehou gaan word nie.

Die egpaar se ander drie kinders, Thea, David en Willie, sal Dinsdag na Bloemfontein gaan om hul ma in die Mediclinic te besoek. Al vier kinders is aangeneem.

Ds. Brits het glo onlangs ʼn plaas in die Noord-Kaap geërf nadat sy moeder oorlede is. OFM berig hy het aan ʼn nabye vriend gesê hy het dit oorweeg om die plaas te verkoop en een nader aan Harrismith te koop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.