Pastorie-moorde: Seun was glo al vantevore in tronk

Ds. Willem Brits Foto: Facebook

Martin Brits (28) die man wat Vrydagaand in verband met ‘n aanval op sy ouers in hegtenis geneem is, het glo vroeër tronkstraf uitgedien.

Martin het glo vroeër tronkstraf uitgedien vir bedrog, berig OFM. Ds. Willem Brits (60) en sy vrou Dorothea (59) is Donderdagaand in die pastorie met ‘n byl aangeval. Ds. Brits het Vrydagoggend aan sy wonde beswyk. Dorothea is steeds in ‘n kritieke, maar stabiele toestand in die Mediclinic in Bloemfontein. Die paartjie se aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen, is tydens die voorval doodgeskiet.

Hul dogter, Thea, was tuis, maar is nie in die voorval beseer nie. Martin beweer dat hy tydens die voorval vasgebind en in die badkamer toegesluit was. Die polisie het hom egter net ná 17:00 Vrydagmiddag in hegtenis geneem na intense ondervraging.

‘n Woordvoerder vir die gesin, AJ Scherrer, het Vrydagaand gesê hulle is bewus van die inhegtenisneming.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die paartjie se vier kinders aangeneem is. “Dit gaan goed onder die omstandighede met die drie kinders,” het Scherrer gesê. “Thea en die seuns David en Wille is getraumatiseerd, maar hulle bly sterk in hierdie moeilike tyd.” Volgens OFM is die kinders tans in ‘n plek van veiligheid in Harrismith.

Scherrer sê die oggend-kerkdiens en aand-kerssangdiens in die NG Kerkenberg-gemeente, waar Brits werksaam was, sal Sondag normaal voortgaan, maar sal ekstra-spesiaal in die lig van die tragiese gebeure aangebied word.

‘n 30-jarige man van Kwaggafontein in Mpumalanga is kort ná die aanval langs die N3-deurpad vasgetrek. Daar was bloed op sy klere en vyf selfone is in sy besit gevind, waarvan een aan ds. Brits behoort het. Dorothea se vuurwapen is ook in sy besit gevind.

Die twee verdagtes is tans in aanhouding by die polisiestasie in Harrismith en sal Maandag in die landdroshof in Harrismith verskyn.

Lees ook:
Dominee van Harrismith vermoor, gesin aangeval
Vermoorde dominee se vrou kritiek ná aanval
Pastorie-moorde: Seun in hegtenis geneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charlotte Portwig ·

Ek dink vanoggend daaraan dat ek hoop nie die kinders is betrokke nie en nou dit.

Naas Scholtz ·

Psa 41:9 Selfs die man wat met my in vrede lewe, op wie ek vertrou het, wat my brood eet, het die hakskeen teen my opgelig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.