Pastorie-moorde: Vermeulen vandag ter ruste gelê

Gerhardus Vermeulen. Foto: Facebook

Gerhardus Vermeulen, wat verlede week saam met sy aanstaande skoonpa ds. Willem Brits vermoor is, word vandag begrawe.

Vermeulen se roudiens vind vandag om 15:00 uit die AP Kerk in Harrismith plaas. Ds. Brits word Vrydag om 11:00 uit die NG Gemeente Kerkenberg in Harrismith begrawe. Ds. Brits, sy vrou Dorothea en Vermeulen is Donderdagaand in die NG Kerkenberg se pastorie aangeval. Ds. Brits en Vermeulen is in die aanval dood. Dorothea is intussen steeds ʼn kritieke toestand in die hospitaal. Hul aangenome dogter Thea, wat ook ten tyde van die aanval by die huis was, is nie beseer nie. Martin, die egpaar se aangenome seun, is glo tydens die aanval in die badkamer toegesluit en is ook nie beseer nie. Hy is kort na die moorde in hegtenis geneem. Elliot Mhlambi is ook kort na die moorde in hegtenis geneem langs die N3-hoofweg.

Martin en Elliot het mekaar glo in die Frankfort-gevangenis ontmoet waar Brits tronkstraf uitgedien het vir bedrog. Dit is nog nie duidelik waarvoor Mhlambi tronkstraf uitgedien het nie. Brits en Mhlambi het reeds in die Harrismith-landdroshof verskyn en sal agter tralies bly tot hulle weer op 19 November in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.