Pastoriemoorde: Seun, verdagte ken mekaar glo

Elliot Mhlambi en Martin Brits. Foto: Lani Fouché/OFM

Martin Brits (28) en sy medebeskuldigde, Elliot Mhlambi, wat van die moorde op ds. Willem Brits en sy aanstaande skoonseun, Gerhardus Vermeulen aangekla word, het mekaar glo in die tronk ontmoet.

OFM berig dat Brits en Mhlambi mekaar in die Frankfort-gevangenis ontmoet het waar Brits tronkstraf uitgedien het vir bedrog. Dit is nog nie duidelik waarvoor Mhlambi tronkstraf uitgedien het nie. Brits en Mhlambi het gister vlugtig in die Harrismith-landdroshof verskyn en sal agter tralies bly tot hulle weer op 19 November in die hof verskyn. Sers. Mmako Mophiring, ʼn polisiewoordvoerder, sê Brits gaan na verwagting binnekort ʼn skuldbekentenis aflê.

Ds. Brits, sy vrou Dorothea en hul aanstaande skoonseun Gerhard Vermeulen is Donderdagaand in die NG Kerkenberg se pastorie aangeval. Ds. Brits en Vermeulen is in die aanval dood. Dorthea is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal. Hul aangenome dogter Thea, wat ook ten tyde van die aanval by die huis was, is nie beseer nie. Martin, die egpaar se aangenome seun, is glo tydens die aanval in die badkamer toegesluit en is ook nie beseer nie. Hy is kort na die moorde in hegtenis geneem. Mhlambi is ook kort na die moorde in hegtenis geneem langs die N3-hoofweg.

Ds. Brits word Vrydag om 11:00 uit die NG Gemeente Kerkenberg in Harrismith begrawe. Dit is nog nie seker wanneer ʼn roudiens vir Vermeulen gehou gaan word nie.

Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.