Paul Harris-brief: SA se twee kante van die munt

Paul Harris. Foto: Moneyweb

Sal die regte Suid-Afrika asseblief opstaan! By baie Suid-Afrikaners maal emosies na ‘n geredigeerde brief  van Paul Harris, stigter van First Rand, aan ‘n vriend in Business Day gepubliseer is.

Harris maak in breë trekke die doemprofete af wat Suid-Afrika nog net vyf jaar gee, en skilder ‘n positiewe prentjie (met uitdagings) van die land.

Daar is dadelik diegene wat meen dat Harris as bevoorregte, ‘n tipiese Marie Antoinette-houding het. Dat die werklikheid in Suid-Afrika baie anders daaruit sien as wat Harris skilder. Of vir baie Suid-Afrikaners dan.

Daar ís ‘n wye spektrum wat nie noodwendig van Harris sal verskil nie, maar dit minstens duidelik sal maak dat daar ‘n ander kant van die munt is. Suid-Afrika het immers die afgelope jaar op vyf uit ses belangrike indekse agteruit geboer, met die indekse vir die korrupsiepersepsie, geweld, mededinging en mislukte state die belangrikstes onder die kreeftegang-kategorie, en net die innovasie-indeks aan die positiewe kant.

Dat verskeie kabinetslede gereeld as waggelende rampe dien wanneer hulle vreemde uitsprake maak wat die land enorme skade oorsee aanrig, is ‘n gegewe. Om dan die publiek voor stok te kry omdat hulle ministers as narre voorstel en so die indruk van ‘n piesangrepubliek skep is ‘n simptomatiese geskarrel. Uit die mediaverklarings, hoofartikels en ander bronne is dit duidelik dat diegene wat pres. Zuma se verduideliking glo oor hoekom hy sy lastersaak teen Shapiro laat vaar het, maar yl gesaai is.

Politieke wetenskaplikes en politieke sosioloë kan nie die blinde oog werp op die feit dat die land volgens die Wêreldbank se Ginikoëffisiënt die grootste inkomstegaping ter wêreld het nie. ‘n Stygende inkomstegaping speel nou ‘n groot rol in die Amerikaanse presidentsverkiesing, in so ‘n mate dat verskeie voorstanders van ‘n suiwer vryemark-ekonomie byna gelyktydig wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, sterk vir dié ekonomiese stelsel ingetree het. Lees gerus Income inequality – should we mind the gap? en Greed.

Die skrywers argumenteer daar is niks verkeerd met ‘n inkomstegaping nie, solank die welvaart van die minsbesoldigdes ook in die proses verbeter. En dit behoort die vryemark te bied. Selfs gulsigheid het ‘n plek omdat dit mededinging verhoog, die ekonomie verbeter en die gebruikers bevoordeel.

Dit is egter moeilik om sulke ideale te verkondig in ‘n land waar mynbase in drie dae verdien wat sommige mynwerkers diep ondergronds ‘n hele jaar neem om te verdien. Dit is nou werkers wat gelukkig genoeg is om nie onder die groot persentasie werkloses te tel nie.

Maar … in Suid-Afrika belemmer soveel faktore die optimale werking van die vrye mark dat dit ‘n akademiese oefening bly – kaderontplooiing wat doeltreffendheid verongeluk, rasbegunstigde bevoordeling wat as regstellende aksie opgedis word, SEB-kodes wat klein ondernemers onder ‘n berg burokrasie versmoor, korrupsie, reuse salarisse in die onproduktiewe sektor en arbeidswetgewing wat die minister van finansies al om besinning laat vra het.

Net soos ekonome en die ekonomie op ‘n manier op ‘n stel gegewens reageer, so reageer die politieke sosioloë en die bevolking ook op ‘n manier op dieselfde gegewens. Dit skep dikwels twee kante van die munt.

In ‘n tipiese Suid-Afrikaanse gemeente sal die een lidmaat kla oor die gemeente se finansies onder druk kom weens ander lidmate wat nie meer so flink offergawes afdra nie. Daardie deel van die gemeente voel hulle word vervreem, want terwyl iemand sy werk verloor het, en ‘n ander se pensioentjie amper vashaak, het die munisipale rekening besteebare inkomste opgeslurp – en hef aan lê voor. Die diakonie kan nie voorbly om die sukkelende gemeentelede van die mees basiese te voorsien nie.

Politieke sosioloë maan ook teen die skep van euforie, soos tydens die wêreldbeker-sokkertoernooi, want na so ‘n euforie slaan die werklikheid weer hard toe, en tree post-euforiese depressie of selfs trauma in. Daarna bly die silwer randjie om die donker wolk vir diegene wat noustrop trek maar bra yl… word die silwer rand bloot die raampie wat ‘n baie donker wolk huisves.

Dit beteken nié dat Harris oor sy optimisme gekruisig moet word nie. Optimisme is nodig vir ekonomiese vertroue en groei. Optimisme is nodig om sielkundig te oorleef in ‘n land met uitdagings. Optimisme is nodig om kiesers in ‘n demokrasie by die stembus te kry om ‘n verskil te maak. Dit is nodig om geleenthede raak te sien en die energie te put om iets daaromtrent te doen.

Sonder optimisme is burgerlike samelewingstrukture soos Outa, AfriForum en die Solidariteitbeweging verlam.

Namate die silwer randjie verdof weens faktore buite die Afrikaner se beheer, word diegene wat hulle as eerstens Afrikaners en dan as Suid-Afrikaners beskou, ook al meer … voel al hoe meer soos vreemdelinge in Egipte. Om daardie Afrikaners met die roede te slaan verdiep die probleem.

Dis nie hoe jy val nie, maar hoe jy weer op jou voete kom wat saak maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.