PayPal hou dinkskrum oor ruimtebetalings

‘n Voorstelling van ruimtetoeriste wat uitspan op die maan.

PayPal, saam met verskeie ander rolspelers, hou Donderdag in Mountain View, Kalifornië, ‘n dinkskrum oor hoe toekomstige ruimtereisigers hul geldelike verpligtinge, ook hier op aarde, kan nakom.

Onder die rolspelers by die vergadering is die SETI-instituut, Silicon Valley Space Center en die Space Tourism Society. Hoewel sommige berigte meld dat Nasa ook betrokke is, word beklemtoon dat dit nié die geval is nie.

Die projek het die naam PayPal Galactic gekry.

Die woordvoerder vir die groep is die bekende Buzz Aldrin. Aldrin was die tweede mens wat op die maan gewandel het.

Die beplanners meen daar kan veral onder ruimtetoeriste ‘n behoefte wees aan ‘n gerief om aankope in die ruimte te doen, maar ook om rekeninge op aarde te betaal terwyl hulle in die ruimte is. Talle kwessies soos geldeenhede, belasting, aksyns en vele meer kan sulke bepalings moeilik maak, veral vir toeriste wat nie ‘n groot ondersteuningsdiens het wat daarmee kan hand bysit nie.

Die idee is dat daar nou tydig besin word en oplossings gevind word.

Ruimtetoerisme kan reeds oor enkele maande met Virgin Galactic Space Ship Two se beplande reis na die ruimte op 25 Desember ‘n werklikheid begin word. Tong in die kies word gespot dat ‘n ruimtetoeris in die pekel kan beland as daar nie ‘n manier is waarop hy vir sy kaartjie terug moeder aarde toe kan betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.