PE-man word in die see vermis

Boardwalk Rescuer, een van die vaartuie wat deur die NSRI gebruik is om die man te soek Foto: NSRI

Boardwalk Rescuer, een van die vaartuie wat deur die NSRI gebruik is om die man te soek Foto: NSRI

ʼn Man word vermis nadat hy Saterdag naby die hawe in Port Elizabeth geswem het, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

“Die man is laas in die water tussen Kings Beach en die hawe gesien,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê. “Volgens vriende van die 28-jarige man van Port Elizabeth het hy in die see geswem en het na die hawemuur geswem om mossels te gaan uithaal.”

Een van sy vriende het hom laas gesien toe hy om die rand van die hawemuur buite sig verdwyn het. In daardie stadium het hy steeds in die kalm see geswem.

Toe hy omstreeks 14:00 nog nie teruggekeer het nie, het die vriend die owerhede in kennis gestel.

Die NSRI, polisie en nooddienste van die munisipaliteit het reageer. Hulle kon die man ná ʼn omvattende soektog nie opspoor nie.

“Die polisie het in verbinding getree met die man se pa en hy en die vriend ontvang traumaberading deur beraders van die polisie,” het Lambinon gesê. “Die soektog het tot ná donker voortgeduur en sal Sondagoggend vroeg weer hervat. Die man word vermis en die polisie sal die voorval ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.