Pelgrimsrus-tenders was onwettig

Pelgrimsrus

Pelgrimsrus

Die toeken van tenders vir huurooreenkomste van winkels in Pelgrimsrus was onwettig en word gekenmerk deur onreëlmatighede en wanadministrasie, het Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, Donderdag gesê.

“Die bewerings oor onwettigheid en onbehoorlikheid in verband met die toeken van die tender vir huurooreenkomste van sakepersele in Pelgrimsrus, is gestaaf,” het Madonsela gesê. “Die proses word gekenmerk deur growwe onreëlmatighede en wanadministrasie.”

Die verslag, ‘Poisoned Processes’, oor beweerde wanadministrasie deur die departement van openbare werke, paaie en vervoer in Mpumalanga is Donderdag deur Madonsela se kantoor vrygestel.

Madonselê sê wanadministrasie sluit ʼn bodkomitee in sonder die vereiste 60% kworum, en ʼn hoë puntetelling is toegeken aan ʼn bieër wie se aanbod die laagste was.

Daar was ook geen omsigtigheidsondersoek om die funksionaliteit en volhoubaarheid van ondernemings te bepaal wat huurooreenkomste oorweeg het nie. Daar is ook vermoedelik bedrog gepleeg, aangesien die aanstellingsbrief vir die bieër, wat gunstig beskou is, aandui dat die bedrag R19 100 was in plaas van die huurbedrag van R10 416.

Die evaluasiekriteria het vir sommige van die tenders verander en “twyfelagtige” redes is hiervoor verskaf en geen behoorlike dokumentasie is gehou nie.

“Die maatskappy wat die huurkontrak ontvang het van R19 100, het nie vir die kontrak gekwalifiseer nie en die optrede om dié kontrak toe te ken is gevolglik onwettig, onbehoorlik en kom neer op wanadministrasie,” het Madonsela gesê.

“Besighede wat wettiglik gekwalifiseer het om die tenders te ontvang, waarvan talle volhoubare ondernemings is wat voordelig sou wees vir die gemeenskap, is benadeel of is ʼn onreg aangedoen weens die departement se wanadministrasie in verband met die toeken van tenders vir nuwe huurkontrakte.”

Die bewering van onvoldoende kennisgewing aan ondernemings wat die perseel beset, is gestaaf en ʼn 30 dae-kennisgewing is nie ʼn redelike tyd vir ʼn onderneming om reëlings te tref of regverdige reëlings te tref vir werknemers nie.

Pelgrimsrus is ʼn nasionale erfenisterrein en toeriste-aantreklikheid waar ondernemings die geboue huur van sowat R1 700 per maand. Daar is 21 ondernemings in die dorp en die besighede, wat die eiendom huur, word deur ʼn tenderproses bepaal.

Madonsela sê die bewerings wat ondersoek is, hou verband met die behoorlikheid van die keuringsproses en die kwalifikasie van sommige van die bieërs wat uiteindelik gekies is.

Sy het in die verslag ook bevind dat die bewering oor die departement se onbehoorlike hantering van die versoek om die besluit oor die 30 dae-kennisgewing te hersien, gestaaf is. “Die departement het nie die versoek en die regverdigheid van sy vorige besluit om uitsettingskennisgewings te voorsien, goed deurdink nie,” het Madonsela gesê.

Regstellende stappe moet gedoen word, insluitend dat die hoof van die departement die nuwe huurooreenkomskontrakte in Pelgrimsrus moet kanselleer. ʼn Nuwe aanskaffingsproses moet ook van stapel gestuur word wat die huurooreenkomste insluit van geboue op die Pelgrimsrus-erfenisterrein wat nie geldige huurooreenkomste het nie. “Die aanskaffingsproses moet voldoen aan die betrokke wetgewing en voorskrifte en die standaarde van regverdigheid, gelykheid, deursigtigheid, mededingendheid en kostedoeltreffendheid.”

Volgens Madonsela moet die eienaars van huidige ondernemings, wat nie suksesvol was met die tenderproses nie, voldoende uitsettingskennisgewings ontvang wat ten minste vir ʼn tydperk van drie maande moet wees.

Lees ook:
Staat staan steeds Pelgrimsrus kleinsake teen
Video: Dinge gaan nou goed in Pelgrimsrus
Planne vir Pelgrimsrus
Pelgrimsrus-sakelui wen hofsaak
Pelgrimsrus glo te wit
Pelgrimsrus-sakelui veg uitsettings
Uitsettings skok Pelgrimsrus-gemeenskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.