Pendoring vereer uitmuntende Afrikaanse reklame

Die beste Afrikaanse reklame van die jaar is gisteraand by die Pendoring-spoggeleentheid in Kaapstad vereer, en soos ander jare het die reklame-agentskappe gewys dat hulle nie ‘n tree vir hul Engelse of internasionale eweknieë hoef terug te staan nie.

Volgens die beoordelaars was daar die afgelope paar jaar ‘n merkbare tekort aan goeie inskrywings in die digitale kategorieë. Vanjaar is dié droogte egter gebreek, en een van die digitale inskrywings, Ogilvy Johannesburg se vindingryke veldtog MK is…, het op die koop toe met die Prestigetoekenning, Pendoring se hoogste eerbewys, weggestap.

Dié veldtog, wat ontwikkel is vir kykNET se musiekkanaal MK, het goud in nie minder nie as vier kategorieë verwerf: video/rolprent vir algemene/openbare uitsending, digitale geïntegreerde veldtog, geïntegreerde veldtog en internet, enmobiele en interaktiewe kommunikasie. Hulle het boonop ‘n silwer toekenning ook ontvang, in die kategorie lewende gebeurtenisse, aktiverings en direkte kommunikasie.

Die reklame-agentskap Etiket, wat verantwoordelik is vir Maroela Media se veldtog Die Grootste Afrikaner van Alle Tye, het ook hul staal gewys in die digitale omgewing deur twee goue Pendorings in te palm vir die Lapa Hoofkaraktersoektog-veldtog. Die toekennings is ontvang in die kategorieë internet, interaktiewe en mobiele kommunikasie, en digitale gemengdemediaveldtogte.

Vanjaar het Pendoring ook die eerste keer die Umphetha-toekenning met ‘n kontantprys van R20 000 vir die algehele wenner in die Eg Suid-Afrikaanse kategorie (TV, radio, algemeen en geïntegreerde veldtogte) oorhandig. Die organiseerders het op die naam Umphetha vir die nuwe toekenning besluit aangesien dit ‘kampioen/die beste’ in Zoeloe beteken en dus uiters gepas is vir die kategorie Eg Suid-Afrikaans waar werk in al Suid-Afrika se amptelike tale meeding.

Noordwes-Universiteit het vanjaar die algehele studentewenner opgelewer met die Blink Stefanus Zef Motorbykomstighede. Dit bring die student, Natasha Prinsloo, ‘n studiebeurs van R10 000 en ‘n internskap by Draftfcb in die sak.

Vanjaar is altesaam 21 goue en 22 silwer Pendoring-trofees toegeken – nadat die beoordelaars lank en indringend besin en gedebatteer het. Hulle was dit eens dat die gehalte van die werk vanjaar in die algemeen besonder hoog was.

Wat goue en silwer Pendorings betref, het die dinamiese Johannesburgse agentskap Joe Public koning gekraai, met vyf goue en drie silwer Pendorings. Net ‘n kortkop agter was Ogilvy Johannesburg met vier goue en drie silwer trofeë.

Draftfcb Johannesburg spog met drie goue en een silwer Pendoring, House of Brave met een goud en twee silwer, TBWA\Hunt\Lascaris Johannesburg en Etiket met twee goues elk, Black River FCBlack River FC en Net#work BBDO met een goud en een silwer Pendoring elk en The Jupiter Drawing Room (Kaapstad) en ninety9cents (Kaapstad) met twee silwer trofeë elk.

Die agentskappe MetropolitanRepublic en Dojo115 het elk een silwer Pendoring verower.

Die wenners van Ads24 se T-hempkompetisie, wat vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar, en onder die vaandel ‘Vier jou Erfenis’ aangebied is, is ook tydens die Pendoringbekroningsaand bekend gemaak.

Die wenner wat weggestap het met ‘n Apple MacBook Pro is Dylan Fortune van Ogilvy Johannesburg. Vanessa De Castro en Greta van der Merwe van Joe Public Ignite was gesamentlik in die tweede plek en het elk ’n Apple Ipad2 gewen. Wayne du Rand van Zoom Advertising Kaapstad, wat derde was, het ‘n Apple Iphone 4S ontvang.

Klik hier vir ‘n volledige lys toekennings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.