Perd dood in ongeluk

Argieffoto.

ʼn Perd is Dinsdagoggend in die vroeë oggendure op ʼn pad naby Krugersdorp doodgery en het veroorsaak dat twee voertuie erg beskadig is.

Volgens Vanessa Jackson, ʼn woordvoerder van ER24, het die ongeluk omstreeks 05:00 op N14 naby Steynweg plaasgevind. “Toe paramedici op die toneel kom, het hulle ʼn voertuig aangetref wat erg beskadig is. ʼn Perd wat verskeie beserings opgedoen het, het naby die voertuig gelê. Ongelukkig is die perd kort daarna dood,” het Jackson gesê.

Die bestuurder van die voertuig het geringe beserings opgedoen en wou nie na ʼn hospitaal geneem word nie.

“ʼn Tweede voertuig is ʼn paar meter van die oorspronklike ongelukstoneel gevind. Die bestuurder van dié voertuig, ʼn 48-jarige man, het vir die eerste botsing uitgeswaai en teen betonversperrings langs die pad gebots. Die man is op die toneel gestabiliseer en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling,” het Jackson gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.