ʼn Man is aangekla van dieremishandeling nadat drie van sy perde uitgesit moes word in Vereeniging in Gauteng.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) se bestuurder in Vereeniging, Marlien Pieterse, sê die perde was ondergewig en het probleme gehad met hulle hoewe wat daartoe gelei het dat hulle erge pyn verduur het. Pieterse sê die eienaar het ʼn waarskuwing van die NDBV verontagsaam om behandeling vir die twee perde en vulletjie te kry. Sy sê die vulletjie is met ʼn erg misvormde bek gebore wat tot gevolg gehad het dat die dier erge pyn verduur het wanneer hy geëet het. “Die eienaar het geweier om die perde aan die NDBV te oorhandig en het ons inspekteurs verbaal mishandel.” Pieterse sê die NDBV het ʼn lasbrief bekom van die Vereeniging landroshof en die polisie is ingeroep om die organisasie by te staan. Die drie perde moes egter weens hulle beserings uitgesit word. Die man sal aangekla word onder die Dierebeskermingswet.