Perez pronk in Singapoer

Sergio Perez was die beste renjaer in Singapoer se strate. Foto Mohd Rasfan/AFP.

Dit was ongetwyfeld Sergio Perez se dag in die strate van Singapoer.

Die Mexikaanse renjaer het ʼn baie goeie aanloop tot die wedren geniet – hy het sommer kort ná die wegspring reeds vir Charles Leclerc verbygesteek – terwyl hy onder moeilike omstandighede dinge uitstekend agter die stuur van sy Red Bull-motor beheer het.

ʼn Rits veiligheidsmotors het saam met die nat toestande die wedren van sy momentum beroof, terwyl Yuki Tsunoda, Esteban Ocon, Alexander Albon, Fernando Alonso, Nicholas Latifi en Zhou Guanyou ook tussendeur die aftog moes blaas.

Max Verstappen het sy vroeë kans om die kampioenskaptitel in die oes deur sy vingers laat glip. Die geskiedenisboeke sal aanteken dat die Nederlander uiteindelik sewende klaargemaak het, maar hy het goed teruggeveg nadat hy op ʼn stadium heel laaste was.

Maar tussen al die drama deur was Perez so standvastig soos die Rots van Gibraltar. Hy het die druk goed hanteer en hy het die tweestryd met Leclerc laat in die wedren gewen.

Hoewel wedrenbeamptes hom vir ʼn moontlike veiligheidsmotor-oortreding wil ondersoek, was hy 7,5 sekondes vinniger as Leclerc in die tweede plek.

“Dit was die beste wedren van jou loopbaan,” het ʼn opgewonde Christian Horner oor die Red Bull-spanradio gesê.

Perez het ná die wedren met Horner se raakvat ontleding saamgestem.

“Dit was inderdaad my beste poging nóg en ek is baie tevrede met die wyse waarop ek dinge beheer het. Die adrenalien het behoorlik deur my are gebruis en ek het eers ná die tyd besef hoe spannend die laaste gedeelte van die wedren was. Ek het egter my bes gedoen om te wen.”

Hoewel hy kennis dra van die ondersoek, is hy onseker wat hy presies verkeerd gedoen het.

“Die spanbestuur het gevra om my voorsprong te vergroot en dit is presies wat ek gedoen het.”

Uitslae:

  1. Sergio Perez (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Lando Norris (McLaren)
  5. Daniel Ricciardo (McLaren)
  6. Lance Stroll (Aston Martin)
  7. Max Verstappen (Red Bull)
  8. Sebastian Vettel (Aston Martin)
  9. Lewis Hamilton (Mercedes)
  10. Pierre Gasly (AlphaTauri)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 341 punte
  2. Charles Leclerc 237 punte
  3. Sergio Perez 235 punte
  4. George Russell 203 punte
  5. Carlos Sainz 202 punte
  6. Lewis Hamilton 170 punte
  7. Lando Norris 100 punte
  8. Esteban Ocon 66 punte
  9. Fernando Alonso 59 punte
  10. Valtteri Bottas 46 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 576 punte
  2. Ferrari 439 punte
  3. Mercedes 373 punte
  4. McLaren 129 punte
  5. Alpine 125 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

Hoe kan ‘n F1 drywer nie weet wat hy verkeerd gedoen het nie. Ken ek die reëls dan beter as hulle. Ek weet hy moet 10 kar lengtes agter die Safety Car wees. Hoe weet hy dit nie.

En hy sê toe dat as gevolg van die nat pad kon hy nie by die safety kar hou nie. Dit is belaglik.

Koos 100 ·

Jip Jan, nadat hy op ‘n staduim die veiligheidsmotor aangejaag het.

Hennie ·

Kyk lankal nie meer na die spektakel nie. 5 veiligheids motors? Daar was maar min werklike kompetiese gewees, met meer van n prosessie van karre om die baan. Nee dankie! MotoGP is nog werklike kompetisie

Koos 100 ·

Ek was werklik geskok in die “stewards” se hantering van insidente. Daar is geen konsekwentheid nie. In een ren word ‘n jaer vir 10 sekondes gestraf as ‘n kar van die baan gewing word, die afgelope ren word ‘n kar afgestamp, en dit is ok? Perez oortree 2 keer dieselfde oortreeding en ontvang ‘n waarskuwing en dan 5 sekondes straf. Nee wat F1, julle vat julle ondessteuners vlak. O ja, in rugby het dit ook gebeur, en raai wat, ek kyk nie meer rugby nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.