Perlemoen: Inhegtenisneming en omkopery

Argieffoto

Twee mans is Vrydag in Edenvale, Johannesburg, in hegtenis geneem vir die onwettige besit van perlemoen ter waarde van R1.5 miljoen.

Volgens lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie in Gauteng, was polisiebeamptes op patrollie toe hulle ‘n bakkie, wat deur ‘n Sjinese beampte bestuur is, afgetrek het. “Toe hulle hom oor sy vrag uitgevra het, het hy verdag opgetree. Die lede het die voertuig deursoek en gedroogde perlemoen agterop die bakkie opgespoor,” het sy gesê. Terwyl hulle hom in hegtenis geneem het, het ‘n vriend opgedaag en met een van die beamptes begin praat.

“Die vriend, ook ‘n man van Sjina, het R10 000 aan die polisiebeampte aangebied om die saak te laat verdwyn” het Mogale bygevoeg. Die tweede man is ook in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op R30 000 wat in sy besit was. “Beide mans sal Maandag in die landdroshof in Kemptonpark verskyn onderskeidelik op aanklagte van die onwettige besit van perlemoen en omkopery.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.