Perlemoen opgespoor ná skietery in JHB

Argieffoto

Argieffoto

Perlemoen ter waarde van ongeveer R3 miljoen is Donderdagoggend in ʼn motor opgespoor ná ʼn skietery tussen twee mans en die metropolisie in Roodepoort, Gauteng.

“Beamptes het ʼn verdagte BMW by Gordonweg van die N1 afgetrek,” het hoofsuperintendent Wayne Minnaar van die Johannesburgse metropolisie, gesê. “Die verdagtes het weggejaag en die beamptes het hulle agternagesit. Hulle is omstreeks 09:00 by William Nicolweg net agter die Flora-kliniek in Florida voorgekeer.”

Volgens Minnaar het die verdagtes op die beamptes losgebrand en beamptes het teruggeskiet. “Die twee mans wat in die motor was, het uitgeklim, oor ʼn muur gespring en gevlug.”

Die polisie het die motor deursoek en op sowat 20 sakke vol perlemoen afgekom. “Die perlemoen was in die kattebak en agterin die motor. Die twee verdagtes is steeds op vrye voet.”

Die polisiebeamptes is nie beseer nie. ʼn Persoon wat met sy Ford Ranger verby die toneel gery het, se voorruit is egter getref. “Die man en ʼn tweejarige kind in die motor is nie beseer nie,” het Minnaar bygevoeg.

Die metropolisie en Suid-Afrikaanse Polisiediens is steeds op soek na die twee mans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.