Petrolprys daal moontlik in Junie met 53c

Inligting van die Sentrale Energiefonds dui daarop dat die petrolprys op 6 Junie met sowat 53c per liter kan daal as die internasionale petrolprys en die verhandelingskoers van die rand, soos op 3 Mei, vir die res van die maand so kan bly.

Times Live berig die departement van energie kondig gewoonlik op die laaste Vrydag van die maand aan wanneer die petrolprys gaan styg of daal, sodat dit op die eerste Woensdag van die volgende maand geïmplementeer kan word. Die prys word bepaal op die gemiddeld van daaglikse oor- of onderverhaling vir die tydperk en belastings, soos brandstofheffings, wat aangepas is.

Junie se prysbepaling word gebasseer op die tydperk 25 April tot 31 Mei. Die gemiddeld tot 3 Mei was ‘n oorverhaling van 26,918c per liter omdat die internasionale oliepryse ‘n afwaartse neiging begin toon sedert dit op 3 April ʼn hoogtepunt bereik het.

Die daaglikse oorverhaling op 3 Mei was 61,84c ʼn liter. ‘n Oorverhaling beteken gewoonlik ‘n prysverlaging by die volgende aanpassing, terwyl ‘n onderverhaling ‘n prysstyging veroorsaak.

Vrydag was die ru-olieprys vir die eerste keer sedert Februarie minder as $100 dollar per vat, wat beteken dat ‘n verlaging in die petrolprys verwag kan word indien die rand nie meer van sy waarde verloor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.