Hoewel vandag se uitspraak oor die e-tolstelsel soos ʼn donker wolk oor motoriste se koppe hang, is daar ʼn silwer randjie wat die petrolprys aangaan. Vroeër vandeesmaand is geskat dat petrol met sowat 23c sou styg en diesel met 44c, maar dié prentjie het aansienlik verbeter.
Paul Joubert, ʼn senior navorser by Solidariteit, het Donderdag aan Maroela Media gesê as die wisselkoers en internasionale petroleumpryse stabiel bly soos hulle nou is, sal petrol se prys moontlik slegs met sowat 5c styg en diesel met sowat 25c. “Indien die rand aanhou om teen die dollar te versterk en die internasionale petroleumpryse aanhou daal, kan daar selfs moontlik ʼn klein daling in die plaaslike prys voorkom,” het Joubert gesê.