Phiyega gekap oor nog ‘n aanstellingsflater

SAPDTeenstrydighede in die kwalifikasies van die waarnemende hoof van misdaadintelligensie, Chris Ngcobo, is nog ’n blaps deur polisiebestuur, het die DA Dinsdag gesê.

“Ons is kwaad oor die verdere bewerings dat Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, weereens ʼn groot aanstelling in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verbrou het,” het Dianne Kohler-Barnard, DA-LP, in ʼn verklaring gesê. “Dit is die tweede groot aanstelling wat Phiyega verbrou. Die vraag is: Het dit langer as ʼn jaar geneem vir diegene wat sy hoogste veiligheidsklaring hanteer om die teenstrydighede agter te kom – of is dit nou om gerieflikheidshalwe bekend gemaak?” Kohler-Barnard sê Phiyega is al aangehaal waar sy haar ondersteuning uitgespreek het vir Richard Mdluli, die voormalige hoof van misdaadintelligensie.

Phiyega het Ngcobo Maandag op spesiale verlof geplaas. “Dit is met groot teleurstelling dat daar tydens ’n keuringsproses teenstrydighede gevind is tussen die verklarings wat genl.maj. Chris Ngcobo gemaak het en die amptelike rekords van sy kwalifikasies,” het Phiyega in ’n verklaring gesê. “Genl.maj. Ngcobo, waarnemende hoof van misdaadintelligensie, kon sover nie ʼn bevredigende verduideliking gee vir die teenstrydighede nie.” Phiyega sê Ngcobo se hoogste veiligheidsklaring is geweier. Sy het ook beveel dat daar strafregtelike klagte en dissiplinêre aksie teen hom geneem word. Genl.maj. Bongiwe Zulu sal in Ngcobo se plek waarneem. Ngcobo het in Mdluli se plek oorgeneem nadat laasgenoemde verlede jaar geskors is te midde van bewerings van bedrog en korrupsie en aanklagte wat verband hou met die moord op sy voormalige minnares se man.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Die vraag moet nie wees hoekom dit ‘n jaar geneem het om dit vas te stel nie, die vraag moet eerder wees, is daar ooit ‘n veiligheidsklaring gedoen?

Rudie Thirion ·

Die Afrikaans vir Major General is Generaal-majoor, afgekort as Genl-maj.

Gert Malan ·

Ai Maroela Media. Ons kommentaar word geredigeer en gesensor maar julle weet nie eers om korrek uit Engels na Afrikaans te vertaal nie. Vir ‘n sogenaamde Afrikaanse webwerf is dit onverskoonbaar! Se maar net.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.