Phiyega ontken sy het ondersteuning gevra

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris

Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het ontken dat sy lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) genader het vir ondersteuning in ʼn ondersoek teen haar.

Lt.gen. Solomon Makgale, Phiyega se woordvoerder, het Donderdag ʼn nuusberig in twyfel getrek dat Phiyega ʼn e-pos uitgestuur het waarin sy ondersteuning vra te midde van druk om haar te skors. “Hierdie e-pos sê nie dat die polisiebeamptes die nasionale kommissaris teen die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) moet ondersteun nie,” het Makgale gesê. “Dit is uitgereik nog lank voordat Opod besluit het om die aantygings van regsverydeling te ondersoek.”

Hy sê die doel van die e-pos was om lede van die polisie in te lig dat hulle nie moet fokus verloor in die stryd teen misdaad deur hierdie “kantlyn-kwessies” nie. “Ons kommunikeer direk met ons lede oor ʼn aantal kwessies, insluitend dit wat in die media gepubliseer word. Ons siening is dat werknemers nie deur die media van sulke dinge te hore moet kom nie.”

Opod het Dinsdag gesê hy gaan aantygings ondersoek dat Phiyega lt.gen. Arno Lamoer, kommissaris van die Wes-Kaap, gewaarsku het dat misdaadintelligensie besig is met ʼn ondersoek teen hom.

In die e-pos, wat Makgale by sy verklaring aangeheg het, het Phiyega gesê daar is ʼn plan om “die SAPD in ʼn professionele diens te verander met toegeweide lede wat die land dien soos dit in die gedragskode uiteengesit word”. “Ek sien daagliks hoe die SAPD tree vir tree vorentoe beweeg. Dit is ʼn opdraande stryd en die treetjies is klein, maar dit is tree vorentoe,” skryf Phiyega in die e-pos.

Sy sê die tyd het aangebreek vir diegene wat graag wil sien dat die SAPD sy doelwitte bereik om “op te staan en hul stemme dik te maak teen diegene wat ons terug wil hou”. “Ek sê dit omdat daar ʼn saak van regsverydeling iewers in die Wes-Kaap teen my oopgemaak is,” het Phiyega in die e-pos geskryf. “Alhoewel ek nog nie amptelik ingelig is oor die saak nie, is ek daarvan bewus dat ek beskuldig word dat ek ʼn sekere provinsiale kommissaris gewaarsku het oor ʼn ondersoek deur misdaadintelligensie teen hom.”

Phiyega het die misdaadintelligensie-eenheid gekritiseer. “Alhoewel ek nie van my kollegas verwag om só onderduims op te tree deur ʼn storie op te maak en ʼn saak teen my aanhangig te maak nie, is ek nie verbaas nie, gegewe die aktiwiteite deur misdaadintelligensie in die verlede,” het sy gesê. “Dit is duidelik ʼn swak poging deur sekere individue om my te diskrediteer en die proses, om diegene sonder integriteit en wat geen belang het om die SAPD vorentoe te neem nie, aan die lig te bring, te kelder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.