Phiyega van dwarsboming van die gereg aangekla

Riah Phiyega. Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega. Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, is van dwarsboming van die gereg aangekla omdat sy na bewering ʼn senior polisiebeampte in kennis gestel het oor ʼn ondersoek teen hom dat hy vermoedelik omkoopgeld van ʼn krimineel ontvang het.

The Star het Vrydag berig Phiyega ontken dat sy die betrokke beampte vooraf ingelig het oor die ondersoek teen hom. Sy het aangevoer die beampte het self van die ondersoek uitgevind toe die Demokratiese Alliansie (DA) ʼn vraag oor die ondersoek in die parlement gevra het.

Phiyega het gesê dit is interessant dat die beweringe teen haar deur anonieme mense gemaak is, kort nadat sy besluit het om die waarnemende hoof van misdaadintelligensie, generaal-majoor Chris Ngcobo, op spesiale verlof te sit hangende ʼn ondersoek oor onregmatighede met sy kwalifikasies. Lees meer hier.

Sy het aan die koerant gesê sy is nog nie amptelik ingelig oor die saak teen haar nie, maar is bewus van die gerugte. Die saak is by die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ingedien, wat sal besluit of Phiyega vervolg gaan word.

Intussen het Phiyega in ʼn verklaring gesê die bewerings is van mense wat haar wil “diskrediteer” en dat niks daarvan sal kom nie. “Julle kan so hard probeer as wat julle wil, julle sal nie daarin slaag nie. Geen modder wat na my kant toe gegooi word sal vassit nie,” het sy gesê. “Ek bly vasbeslote dat niks, absoluut niks, my of my span sal ontmoedig om die SA Polisiediens, veral die misdaadintelligensie-afdeling, weer op te bou nie.”

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.