Phyllis Naidoo sterf

Phyllis Naidoo

Die struggle-veteraan en outeur Phyllis Naidoo is Donderdag in die ouderdom van 85 oorlede.

Die Daily News het berig dat Naidoo aan ʼn hartkwaal by die Albert Luthuli-hospitaal oorlede is. Sy is by ʼn privaat krematorium veras.

“Ons betreur haar afsterwe,” het Keith Khoza, woordvoerder vir die ANC, gesê.

Naidoo is op 5 Januarie 1928 in Estcourt, KwaZulu-Natal gebore. Sy het later by die Natal Indiese Kongres aangesluit en was betrokke by die SA Kommuniste Party. Sy en haar eggenoot het tydens apartheid talle mede-aktiviste gehelp om uit die land te kom. Naidoo is in 1966 deur die apartheidsregering verban.

In 1967 is haar man op Robbeneiland gevangene geneem en sy is onder huisarres geplaas. Sy het haarself in dié tyd as ʼn prokureur gekwalifiseer.

Van die aktiviste wat van Robbeneiland bevry is, het by haar om werk kom aanklop. Sy het in een stadium vyf oud-Robbeneiland gevangenes as boodskappers by haar prokureursfirma in diens gehad, insluitend pres. Jacob Zuma.

Sy het in 1977 na Lesotho verhuis en in 1983 na Zimbabwe voordat sy in 1990 teruggekeer het na Suid-Afrika.

Sy het sewe boeke, waaronder die “Footsteps”-reeks en Le rona re batho: An account of the 1982 Maseru Massacre” geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.