“Piekniek met Dingaan”-saak uitgegooi

President Jacob Zuma

President Jacob Zuma se lastersaak teen Rapport, waarin hy R5 miljoen eis, is met koste van die hand gewys nadat Zuma nie op ʼn tussentydse hofbevel reageer het nie.

Rapport het vroeër vanjaar ‘n aansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om te versoek dat die lastersaak geskrap moet word, berig Beeld.

Regter Willem Louw het Dinsdag die aansoek, wat deur Media24 namens Rapport ingedien is, toegestaan.

Willem de Klerk, Rapport se prokureur, het gesê die regsgeding tussen die president en Rapport is nou verby. “Die uitspraak is nie op materialistiese redes gebaseer nie. Dit is gegrond op president Zuma se volgehoue versuiming om die hof se reëls te gehoorsaam,” het De Klerk gesê. Hy sê Zuma is deur die hof versoek om dokumente oor die saak aan die hof en Rapport se regspan te oorhandig, wat Zuma nie gedoen het nie. “Ná verskeie aansoeke en selfs ʼn hofbevel om aan dié versoek te voldoen, het Zuma steeds nie reageer nie. Ons het daarvolgens aansoek gedoen dat die lastersaak verwerp word.”

Zuma het die lastersaak aanhangig gemaak nadat ʼn artikel en foto in die koerant se uitgawe van 30 Desember 2007 verskyn het. ʼn Foto van Zuma in die geselskap van die komediant, Leon Schuster, en die sanger, Steve Hofmeyr, is onder die opskrif “Piekniek met Dingaan” gepubliseer.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.