Piepklein voëltjies migreer 29 000 km

'n Bontrokkie Foto: news.com.au

ʼn Klein voëltjie wat maar so veel soos twee eetlepels vol suiker weeg, migreer bykans 29 000 km heen en weer tussen die Arktiese Oseaan en Afrika, het wetenskaplikes Woensdag berig.

Die noordelike bontrokkie (Oenanthe oenanthe) weeg maar ʼn skrale 25 gram, maar bioloë wat dié insekvretertjie met ʼn opsporingstoestel gemerk het, was stomgeslaan oor sy vlugvermoë. Hulle het piepklein geo-opsporingstoestelle, wat sowat 1.2 gram weeg aan die pootjies van 46 bontrokkies in Alaska en op Baffin-eiland in noord-oostelike Kanada vasgemaak. Die Alaska-voëltjies het in Afrika oorwinter voordat hulle begin terugkeer het. Hulle het dus ongeveer 14 500 km van Alaska na Afrika gereis en daagliks sowat 290 km afgelê. Hulle het oor Siberië en die Arabiese woestyn gevlieg, op pad na Sudan, Uganda en Kenia. Dit het hulle 91 dae geneem om by hul bestemmings aan te kom, en 55 dae terug huis toe.

ʼn Gemerkte voëltjie van Baffin-eiland het oor die Noord-Atlantiese Oseaan gevlieg, in Brittanje geland en toe suidwaarts gereis oor Europa, die Mediterreense See en Sahara-woestyn om aan die kus van Mauritanië, in Wes-Afrika, te oorwinter. Dié voëltjie het 26 dae hierheen gevlieg en 55 dae geneem om terug te kom by die huis. Sy reis was ongeveer 7 500 km lank.

“Dit is ongelooflike migreerreise, veral vir só ʼn klein voëltjie,” het Ryan Norris van die Universiteit van Guelph in Ontario, Kanada, gesê. Die studie is Woensdag in Biology Letters, ʼn tydskrif wat deur die Royal Society in Brittanje uitgegee word publiseer. “Vir sy liggaamsgrootte is dit een van die langste retoervlugte van enige voël ter wêreld en ontstaan vrae hoe so ʼn klein voëltjie so ʼn uitmergelende reis twee maal per jaar kan oorleef; veral vir onervare jong voëltjies wat op hul eie moet migreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.