Pierre Korkie: “Onderhandelings is ingewikkeld”

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding. Sy vrou is egter Vrydag vrygelaat.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding. Sy vrou is egter Vrydag vrygelaat.

Die humanitêre welsynsorganisasie Gift of the Givers het Dinsdag gesê hy is persoonlik betrokke by gesprekke om Pierre Korkie, ʼn Bloemfonteinse onderwyser wat in Jemen ontvoer is, se vrylating te bewerkstellig, maar dat dinge nie goed vorder nie. Die onderhandelinge het om 11:00 begin.

Tiaz Sooliman, die stigter van die organisasie, het aan 567 CapeTalk/Talk Radio 702 se Stephen Grootes gesê ʼn groot deel van die onderhandelinge met sy ontvoerders, wat glo aan Al-Kaïda verbind word, is om hulle te oortuig om Pierre se losprys (bykans R30 miljoen) te verminder en die spertyd vir die betaling daarvan (Vrydag) te verleng.

Pierre se vrou, Yolande, is met behulp van die organisasie vrygelaat. Sy en haar man is in Mei 2013 in Taiz ontvoer nadat hulle glo vir Amerikaanse toeriste aangesien is. Die groep het aanvanklik $2 miljoen vir Yolande geëis, maar het haar sonder ʼn losprys vrygelaat.

Yolande is intussen onderweg na Suid-Afrika vanwaar sy gaan begin om geld in te samel om haar man se losprys te betaal.

“Die probleem wat ons organisasie se verteenwoordiger in Jemen, Anas Al-Hamati, tans ondervind, is dat hy nou met verskillende mense van die groep moet onderhandel. Slegs een van die mans wat by verlede week se onderhandelinge was, is nou teenwoordig. Die hele proses van vertroue wen en om hulle te probeer oortuig Pierre is nie ʼn Amerikaner nie, begin weer van voor af,” het Sooliman gesê.

Klik op die klankgreep om na die volledige onderhoud te luister.

[soundcloud url=”https://api.soundcloud.com/tracks/129463226″ params=”color=ff6600″ width=”100%” height=”166″ iframe=”true” /]

Bron: EWN

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.