Pierre Korkie: Ontvoerders swyg; spertyd kruip nader

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Pierre Korkie wat in Jemen ontvoer is, is steeds in aanhouding.

Daar is tans geen kommunikasie met die Al Kaïda-militante wat die Bloemfonteinse onderwyser, Pierre Korkie, in Jemen gyselaar hou nie – slegs vier dae voor die losprys vir sy vrylating betaal moet word. “Ons weet glad nie wat Pierre se gesondheidstoestand is nie en of hy nog lewe nie,” het Imtiaz Sooliman, stigter van die humanitêre welsynsorganisasie Gift of the Givers, Dinsdag gesê. “Ons het reeds die afgelope agt dae geen kontak met die militante nie. Dit is nog die langste en mees kommerwekkende tydperk van stilswye tydens ons onderhandelinge.”

Volgens Sooliman is daar nie ʼn manier om van die organisasie se kant af kontak met die ontvoerders te maak nie, aangesien hulle gedurig hul fone se simkaarte verander.

Anas al-Hamati, die man wat namens Gift of the Givers met die militante in Jemen onderhandel het, moes verlede Dinsdagoggend na Dubai vlug uit vrees vir sy en sy gesin se veiligheid, nadat onderhandeling begin skeefloop het. Die ontvoerders glo dat die Suid-Afrikaanse regering ʼn losprys vir Korkie betaal het en dat al-Hamati dit gesteel het. Die ontvoerders het al-Hamati gedreig deur ʼn foto van ʼn plofstofgordel aan hom te stuur. Hulle weier om te glo dat die Suid-Afrikaanse regering nie Korkie se losprys van $3 miljoen (nagenoeg R32.5 miljoen) wou betaal nie.

Die beleid van die Suid-Afrikaanse regering is dat dit nie ʼn losprys betaal vir burgers wat in ander lande ontvoer word nie, aangesien dit terrorisme aanhits.

Sooliman het verder gesê daar het weer onluste in Jemen uitgebreuk tussen plaaslike soldate en Al-Kaïda en dat 20 Jemense soldate deur die groep vermoor is. “Ons is nie seker of dié verwikkelinge verantwoordelik is vir die groep se stilswye nie. Ons hoop hulle tree spoedig met ons in verbinding sodat die misverstand oor die losprys opgeklaar kan word en sodat ons kan uitvind of Korkie steeds lewendig is. Ons kan nou net hoop en bid vir die beste.”

Lees alles oor Pierre Korkie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eugenie ·

Mag daar baie vinnig uitkoms wees om hierdie man se lewe te spaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.