Voormalige polisiespeurder Piet Byleveld is versoek om die moord op die Matie-student, Inge Lotz, te ondersoek, het The Star Woensdag berig.
“Hy sal in die vervolg namens my optree en die ondersoek lei,” het haar pa, prof. Jan Lotz, gesê. Sapa berig dat Byleveld, wat nou ʼn privaatondersoekersfirma bedryf, Dinsdag met Lotz vergader het. Die gesin het onlangs ʼn beloning van R1 miljoen uitgeloof vir enige inligting wat tot die skuldigvinding van haar moordenaar kan lei. “In hierdie stadium het ek regtig nodig om uitsluitsel oor haar dood te kry. Dit is hoekom ek R1 miljoen aangebied het en nou daarop aandring dat die beste man aan die saak werk,” het Lotz gesê.
Inge Lotz is op 16 Maart 2005 in haar woonstel in Stellenbosch vermoor. Haar mansvriend, Fred van der Vyver, is van die moord beskuldig maar is in November 2007 vrygespreek.