Pieter-Dirk Uys begin met politieke beweging

Pieter-Dirk Uys

Kunstenaar Pieter-Dirk Uys het Vrydagoggend ‘n politieke “beweging” bekendgestel om diegene, wat ‘n alternatiewe demokrasie in die land soek, te verenig.

“Ek praat as burger, nie satirikus nie,” het hy gesê. “Suid-Afrika se Demokratiese Nasionale Alternatief (SA-DNA) is ‘n konsep wat kleiner politieke partye moet aanneem en met hul eie idees moet vorentoe neem.”

“Ons het ‘n baie sterk regering, ‘n sterk regerende party en in teatrale terme is hulle tans die suksesvolste vertoning. Dit is ‘n politieke sepie met ‘n ster wat demokraties verkies is, en hulle lewer ‘n vertoning, ‘ANC’s got Talent’,” het Uys gesê. Hy het op die verhoog met joernaliste by die Fugard-teater in Kaapstad gepraat. Hy sê die beweging se doel is nie om die ANC of sy amptelike opposisie, die Demokratiese Alliansie (DA) te minag nie. “Ek het die grootste respek vir hulle. Hulle is my draaiboekskrywers en ek sal hulle nooit verneder nie.”

Die doel is glo om ‘n vryheid van keuse vir die 2014 algemene verkiesing te ondersteun. Jeugdiges wat nie tydens apartheid gebore is nie, sal die eerste keer aan dié verkiesing deelneem.

Die SA-DNA is ‘n titel van ‘n “nuwe vertoning” wat hy aan kleiner partye bekendstel, wat verskillende, maar belangrike kwessies aanspreek. Die partye sluit die DA, Onafhanklike Demokrate, Vryheidsfront Plus, Congress of the People, Inkatha Vryheidsparty, African Christian Democratic Party, Pan Africanist Congress of Azania en die politieke platform, Agang, in.

Talle verslaggewers, wat nie seker was wat bekendgestel word nie, het Uys gevra om te verduidelik of hy ‘n nuwe politieke party begin en of hy nou ‘n politikus gaan word. “Dit is ‘n titel, ‘n naam, ‘n beweging; dit is nie vir my om te besluit wat dit is nie. Ek wil nie namens enige politieke leier of enige party praat nie,” het hy gesê.

Sy doel is glo vir partye om met idees vorendag te kom wat demokrasie ‘n groter moontlikheid sal bied om te slaag. “Ek gaan nie byeenkomste hou of toesprake maak nie. Ek is nie hier as politikus nie. Ek is nie hier as satirikus nie. Ek is hier as ‘n burger.”

Hy het glo nog nie enige partye genader met sy konsep nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.