Pippie: ‘eet, slaap en rehab’

Pippie saam dr Ridwan Mia. Foto: Facebook

Die 3-jarige Pippie Kruger se rehabilitasieprogram is in volle swang by die Netcare-hospitaal in Auckland Park, Johannesburg, waarheen sy Woensdag oorgeplaas is.

Pippie het in Junie ‘n veloorplantingoperasie ondergaan nadat sy derdegraadse-brandwonde oor sowat 80% van haar lyfie opgedoen het. ‘n Bottel met vuuraansteekgel het ontplof toe haar pa Oujaarsaand wou braai. Dokters het haar aanvanklik sowat ‘n 10% kans op oorlewing gegee. Haar liesvel is in ‘n laboratorium in Boston, Amerika gekloon en hierheen teruggevlieg.

Haar ma, Anice, het Saterdag op Facebook geskryf: “Hello hello sjoe rehab is harde werk regtig ek is kapot so kan my nie eers indink hoe moeg pips is nie. En ek dink dis so so wow. Julle as mense steeds nie God in alles kan sien nie weet ek rerig nie eers meer nie. Wens ek kon julle almal wys hoe awesome pips is. Maar die klein madam eet, slaap rehab, eet slaap rehab. En dan die groot slaap en ek moet met legos bou haha.”[sic]

Maande se fisieke en sielkundige rehabilitasie lê nou vir haar voor en dit sal minstens twee maande duur voordat sy genoeg spierkrag opgebou het om weer te kan loop, berig Rapport.

“Sy het soveel tyd in die hospitaal deurgebring dat sy amper weer soos ’n baba is. Sy sal van voor af alles moet leer,” sê haar chirurg, dr Ridwan Mia. Hy is verlig dat Pippie goed eet want sy gaan energie nodig hê vir genesing. “En sy gaan sielkundige berading benodig. Daar is nie net die trauma nie, sy was ook lank in die waakeenheid. Dis goed dat sy in die rehabilitasiehospitaal is, dis halfpad tussen ’n hospitaal en die huis. Sy kan daar leer om met ander kinders te sosialiseer.”

Tesame hiermee gaan Pippie ook spraak-, arbeids- en speelterapie kry. Die asemhalingspyp wat sy weke lank ingehad het, het veroorsaak dat sy nie praat nie.

Die Krugers gaan ’n nie-winsgewende organisasie stig wat jong brandslagoffers sal help om dieselfde behandeling as Pippie te kry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.