Pippie Kruger sterk aan na 62ste operasie

Pippie Kruger by haar speelgoedperd (Foto: verskaf)

Isabella “Pippie” Kruger is weer aan’t glimlag nadat sy Woensdag haar 62ste operasie ondergaan het.

Maroela Media het by Anice Kruger, Pippie se ma, ingeloer om te hoor hoe Pippie nou aansterk en hoe dit deesdae met die Kruger-gesin gaan.

Pippie (12) het ʼn operasie aan haar linkerhandgewrig ondergaan om beweeglikheid in daardie einste hand terug te win.

“Sy het ook botoks van kop tot tone gekry om haar spiere te verslap sodat dit nie so ongelooflik styf trek en pyn veroorsaak nie.”

Sy is Woensdagoggend vroeg in Mediclinic Sandton opgeneem en sommer dieselfde dag weer ontslaan.

“Pippie het gisteraand goed geslaap, maar ek dink dis dalk van die narkose.”

Sy het onlangs ʼn speelgoedperd gekry, en Anice sê dit is vir Pippie ʼn soort uitlaatklep wanneer haar pyn erger word. Die perd het ʼn kamma-gebroke been, en dít is waar Pippie se bekommernis lê.

Pippie Kruger saam met haar ma, Anice, in die hospitaal (Foto: verskaf)

Anice verduidelik dat Pippie op die oomblik die pyn wat sy ervaar verskuif na haar gunsteling-speelgoedperdjie.

“Hy was gister ook ‘teater’ toe en moes ook narkose kry, so op die oomblik gaan niks oor Pippie nie, sy het nie eina nie. Ek dink sy praat op die oomblik maar so deur die perd.

“Sy fokus eerder op dit [die speelding]. Sy sal vir my sê, ‘oe, Nini het nou eina,’ dan weet ek dat sy nou ʼn pilletjie vir pyn soek.”

“Sy en die perd sterk goed aan,” skerts Anice.

Verder gaan dit eintlik goed met die Kruger-gesin.

“Ons vat dit dag vir dag, minuut vir minuut. Ons beplan nie werklik enigiets vooruit nie.”

Mense reik ná al die jare sedert die fratsongeluk steeds na die Kruger-gesin uit. Pippie het op Oujaarsaand in 2011 met vuuraansteekjel gebrand en 80% brandwonde oor haar lyfie opgedoen. Na talle prosedures, dae, weke en maande in hospitale en rehabilitasiesentrums, sterk Pippie steeds aan.

“Daar is mense wat van die begin af saam met ons hierdie pad stap. Nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Ons is so geseënd met almal wat saam met ons bid. Ek waardeer elke boodskappie wat ek in die oggende kry. Dit maak alles net so klein bietjie makliker.”

“Ons pendel tussen Ellisras en Stilbaai, so die tyd wat ons so op verskillende plekke deurbring is nie só moeilik nie.”

Anice verduidelik egter dat wanneer die gesin weer almal bymekaar op dieselfde plek, is Pippie en haar pa onafskeidbaar.

Pippie en haar ma sien oor ’n paar weke weer die dokter om verdere moontlike prosedures te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AW ·

Kan myself nie eens indink, wat daardie Kind moes en moet deur gaan !!!

Jy Is Dapper se Moses !!!

Cornelia ·

Sterkte Pippie, ons hou jou in ons gebede, ons is so dankbaar die operasie het goed af geloop, ons bid jou alles wat mooi is toe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.