Pippie kuier by pappa en mamma

Pippie tydens haar kuiertjie by haar ma en pa. Foto: Facebook

Pippie Kruger, die 3-jarige brandslagoffertjie wat die hele land se harte gesteel het, kon vir die eerste keer ná Oujaarsaand ʼn naweek buite die hospitaal spandeer.

Pippie Kruger het in Junie ‘n veloorplantingoperasie ondergaan nadat sy Oujaarsaand derdegraadse-brandwonde oor sowat 80% van haar lyfie opgedoen het. ‘n Bottel met vuuraansteekgel het ontplof toe haar pa, Erwin, ʼn vuur wou aansteek.

Sy is Saterdag saam Erwin en ma, Anice, na dié se huurwoonstel in Melville, Johannesburg, geneem, berig Beeld. Anice bly tans in die woonstel op haar eie en Erwin, wat in Lephalale (Ellisras) werk, kom kuier soveel as wat hy kan. Hulle eenjarige seuntjie, Arno, word tans deur sy ouma en oupa versorg.

Anice het Saterdag op Pippie se Facebook-blad geskryf: Ek was vandag bederf deur liewe Jesus en dit was ‘wow’. Met Pips gaan dit rerig baie goed en met Arno ook, hy is so ‘n gelukkige outjie.” [sic]

Sy het die volgende dag geskryf: “Ekke sit nou so en dink… sien die mense rerig raak waardeur Pippie was, sien hul al die harde werkies waardeur sy is, of sien hulle nou net eina en merkies.” [sic]

Pippie het Maandagoggend teruggekeer na die Netcare-hospitaal in Auckland Park, waar sy besig is met rehabilitasie. Daar lê nog maande se fisieke en sielkundige rehabilitasie vir haar voor om genoeg spierkrag op te bou en om weer te kan loop. Sy kry ook spraak-, arbeids- en speelterapie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.